Goeie pryse vir Ferroland

Afslaer Corne du Plessis van CDP Afslaers in aksie tydens Ferroland/Manketti Game Reserve se veiling. Saam met hom op die foto is Rassie Erasmus, “spotter” tydens die veiling
Afslaer Corne du Plessis van CDP Afslaers in aksie tydens Ferroland/Manketti Game Reserve se veiling. Saam met hom op die foto is Rassie Erasmus, “spotter” tydens die veiling

Leoni Kruger
LEPHALALE — Ferroland/Manketti Game Reserve se jaarlikse wildveiling, aangebied deur African Game Auctioneers en Mpatamacha Wild, is Saterdag 23 April by Mpatamacha Wild te Vaalwater gehou. Brandon Leer en Corne du Plessis was die afslaers.
Marius Fuls, hoof van Ferroland Limpopo, het voornemende kopers verwelkom en hulle daarop gewys dat Ferroland/Manketti Game Reserve se diere gehard en goed aangepas in die soet Bosveld is. Hy het gesê die diere loop in ‘n groot reservaat en daarom is daar natuurlike seleksie. “Dit opsigself verseker dat Ferroland/Manketti se diere gesog is onder kopers” het hy gesê.
Die wildvangs vooraf is hanteer deur die bekwame span van Mpatamacha Wild. Volgens Corne du Plessis, afslaer, bied die veilingslokaal ‘n heel nuwe uitkyk aan kopers met die groot skerms wat aangebring is. Hy sê kwaliteitdiere van hoogstaande gehalte was te sien en die pryse het dit weerspieël – vir gewone gemsbokke is tot R22 000 stuk betaal.
‘n Goue wildebeesbul het ‘n hoogste prys van R170 000 behaal met ‘n gemiddeld van R165 000 en een swart rooibokooi is vir R90 000 verkoop. Nog goeie pryse behaal is drie buffelbulle wat vir R40 000 stuk verkoop is.
Die totale omset van die veiling was R3 354 200.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.