Goudgeel seringe en ander dinge

Marthie Scheepers en Kobus Roux
LEPHALALE — Wat ‘n voorreg om vir ‘n wyle in die koelte van ‘n tambotiewoud te kon vertoef in die geselskap van veldwaardeerders en -kenners. As toegif, ‘n kuier saam met pionierjagters. Lede van die Dendrologiese Vereniging se Tak Manketti het onlangs dié voorreg gehad.
Die Barnard-familie het Weltevreden, die 1 480 hektaar plaas, aangekoop vir die groot verskeidenheid in habitat, bome en wild. Veral omdat daar rooi ribbokke en klipspringers voorkom. Die soetdoringveld is ‘n uitstekende habitat vir die senegalia en vachellia (voorheen bekend as die akasiafamilie) en die reuse kameeldorings getuig absoluut daarvan. Groot opgewondenheid toe ons die poerabessie (vitex pooara) op Weltevreden se uitgebreide boomlys kon aanteken.
Dr Willie Barnard, formidabele boommeester, het die medisinale gebruike en oorlewingswaarde van sekere bome uitgelig. Die boomliefhebbers is vanselfsprekend gemaan om versigtig te wees, omdat die konsentrasie van die middel wat jy gebruik sal wissel – afhangende van onder andere die groeiomstandighede. ‘n Voorbeeld hiervan is die koorsteebossie (lippia javanica) wat vir koors en pyn gebruik kan word. Maar as dit onder sekere omstandighede groei kan dit lewervergiftiging veroorsaak.
Die noem-noem kan terloops gebruik word as baie effektiewe biologiese sekuriteitsheining – ‘n goedkoop alternatief dalk?
Olienhout (Olea europaea subsp. Africana)
Dié boom is sedert die Bybel se tyd bekend. Op die takkie is die blaartjies in teenoorstaande pare, maar elke opeenvolgende paar swaai met 90˚ wat die boom baie maklik uitkenbaar maak. Die Suid-Afrikaanse wetenskaplike naam van die olienhout was eers olea africana, maar in Europa was dit olea europaea. Die gewone olienhout in SA se naam is nou verander na olea europana met africana as subspesie.
‘n Treksel van die bas van ‘n olienhout kan glo gebruik word vir hoë bloeddruk – tydens die ontleding van die bas is bevind dat dieselfde chemiese stof wat in hedendaagse bloeddrukmedikasie gevind word, ook in die bas aangetref word.
Sering (inheems)
Dit is nou die tyd om op te let hoe pragtig die seringe van kleur verander. Goudgeel staan die bergsering nou teen die rante en in Palala – en Walter Sisulurylaan staan lanings wit seringe wat effens bruiner verkleur as die bergsering.
Uitheems
Die mak sering (melia azederach) moet uitgeroei word omdat dit as ‘n kategorie een-indringer op landbougrond geklassifiseer word. Die eienaar van die grond waarop so ‘n boom staan kan selfs ‘n boete en/of selfs tronkstraf opgelê word.
Bosveldsaffraan:
Dié boom lyk amper soos die witgat (mapipi), maar die stam is meer grys en die blare groter en langer as die witgat. Sy Kaapse neef is die lepelhout. Die blare kan gekou word vir verligting van ‘n seer keel.
Karee:
Die familienaam rhus is vervang met searsia.
Taaibosfamilie. Voëls hou van die karee. Die blare lyk soos ‘n hoenderspoor.
Die dorp Swartruggens het blykbaar sy naam te danke aan die swart stam van die karee wat dig op die rantjies staan en die stamme vertoon swart.
Kameeldoring:
Die peule is baie proteïnryk, maar as dit té fyn gemaal word vir dierevoer, kan dit blykbaar ‘n gevaar van blousuur inhou.

(Lees volgende week meer oor die Pionierjagters – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.