GPF help met waterkrisis

LEPHALALE — Lede van die Lephalale Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede week ingespring om te help met die waterkrisis in Onverwacht.

Lede van die Lephalale GPF het verlede week ʼn plan gemaak om vir die inwoners van Onverwacht water te gee

Die kontrakteurs wat deur die Lephalale Munisipaliteit aangestel is om die asbeswaterpype te vervang het sommige van die toevoerkrane vir dae lank toegedraai en inwoners sonder water of verduidelikings gelaat. Volgens inligting eindig hulle kontrak vir die vervanging van die pype aan die einde van Julie 2018.

Die GPF het gereël dat sowat 32 000 liter water by verskeie wonings en gastehuise in dié area afgelaai word vir noodsaaklike gebruik.

Teen Saterdag 21 Julie was die inwoners opnuut woedend toe daar geen waterdruk is nie. Sybil Nieuwoudt, DA-raadslid, het op die Water en Ligte Krisis-WhatsApp-groep aangedui dat die lae waterdruk, volgens die kontrakteurs, die gevolg was van ʼn foutiewe klep by die opgaardam.

ʼn Gebarste waterpyp op die hoek van Sandsteen en Walter Sisulu op Sondag 22 Julie het die inwoners van Skurwerand- en Sandsteenstraat weer sonder water gelaat. Die munisipaliteit kon nie duidelikheid gee oor hoeveel tyd dit sou neem om die pyp te herstel nie.

Nieuwoudt het op die groep aangedui dat daar ʼn openbare vergadering beplan word vir die publiek en die munisipaliteit sodat inwoners al hulle vrae direk aan die rolspelers kan vra.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.