Grebe-verdagte gevang

Moris Maripa

WITPOORT — Lede van die Heritage Protection Group, in samewerking met die polisie in Modimolle, het ʼn deurbraak gemaak deur ʼn 51-jarige verdagte, Morris Maripa, in Reabetswe Village in Witpoort buite Lephalale te arresteer op Maandag 2 September.

Maripa was gesoek na aanleiding van die moord op die 71-jarige Trudie Grebe op Vrydag 23 Augustus omstreeks 07:00 in haar agterplaas by haar huis in Modimolle.

Volgens Kolonel Moatshe Ngoepe, Provinsiale Polisiewoordvoerder, het die polisie in Modimolle met hulle aankoms by Grebe se huis, haar liggaam met veelvuldige steekwonde in die agterplaas gekry. Sy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Volgens Sakkie Louwrens van HPG en oud-polisiekolonel, het hulle ʼn wenk van ʼn familielid van Maripa gekry dat hy skuil by ʼn huis in Reabetswe Village en hulle is saam met lede van Modimolle SAPD na die huis.

Louwrens sê volgens Maripa was die motief aanvanklik net roof, maar Grebe was blykbaar te sterk vir hom en daarom het hy haar doodgemaak. Sy is baie wreed vermoor.

Grebe se man, Dolf (75) was in die huis tydens die voorval maar hy is baie hardhorend en sieklik en het niks gehoor nie.

Grebe was bekend en geliefd in die Modimolle-gemeenskap en sal altyd onthou word vir haar besondere liefde vir diere.

Maripa het Dinsdagoggend 3 September in die Landdroshof in Modimolle verskyn en hy het borg geweier. Die saak is uitgestel na 3 Oktober 2019.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.