Groot gees Peet groet

LEPHALALE — Oud-Ellisrasser, Peet Seegers, het Saterdagoggend 26 September om 06:30 in Mosselbaai aan ʼn hartaanval gesterf.

“Hy was rustig by die huis en ek was by hom toe hy gesterf het. Hy was ʼn diabeet en van sy organe, soos sy niere, het begin ingee. Hy het ook die laaste twee weke baie pyn gehad,” sê Marié, sy vrou.

Peet, wat van Februarie 1968 tot April 2019 in Ellisras gewoon het, het 38 jaar vir Eskom gewerk. Hy het ʼn groot rol gespeel in die opbou en ontwikkeling van Matimba Kragstasie.

Peet was ook alombekend vir sy betrokkenheid by die jaarlikse Bosveldfees en as eggenoot van die voorsitter moes hy baie dinge doen. “As iemand vergeet het om toiletpapier uit te sit, moes hy dit gou gaan doen. Hy was my “go-to” persoon. Dit was agter die skerms en ek dink nie mense het geweet hoe hy my altyd ondersteun het nie. Hy was in beheer van al die elektrisiteit, die aanlê van krag en vele meer,” sê Marié.

Peet het drie jaar gelede sy eerste beroerte-aanval by die werk gehad. Die tweede aanval was nie lank daarna nie en hy is in Unitas Hospitaal in Centurion opgeneem waar hy ook ’n hartaanval gehad het. Daarna het hy nie teruggegaan werk toe nie en met behulp van ’n loopraam geloop.

“Ek is heeltemal alleen in die Kaap. My dogter is in Kanada en my seun in Lephalale. Al ons familie en vriende is in Gauteng en Lephalale, daarom gaan ek eers geen diens hou nie,” sê Marié.

Marié beplan om oor ʼn maand of twee Ellisras toe te kom en dan ʼn diens vir Peet te reël. Die reëlings sal op sosiale media bekendgemaak word. “Ek hoop al ons dierbare vriende en familie verstaan hierdie besluit, maar dit is die beste vir nou,” sê sy.

“Baie dankie vir die geleentheid om dankie te kan sê. Ek oordryf nie as ek sê dat ek en die kinders ʼn stortvloed boodskappe en oproepe ontvang het nie. Daar was tallose vriende wat gesê het hulle sal dadelik na my toe ry, en ek weet hulle bedoel dit. Ek kan niemand uitsonder nie. Baie dankie aan die Ellisras-gemeenskap, ons vriende en al ons familie vir die wonderlike ondersteuning. Ek sien julle een van die dae,” sluit Marié af.

Peet is Donderdag 1 Oktober in George in die Wes-Kaap veras.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.