Groot slag geslaan in renostergeledere

VAALWATER — ’n Groot slag is in renostergeledere geslaan toe drie verdagtes onlangs gearresteer is in verband met onder andere moord en renosterstroping.

Volgens speurder-adjudant-offisier Jurg van Heerden, hoof van die Bedreigde Spesies-eenheid (BSE) in Limpopo, het Bethuel Ndubani (33), Ebony Mokoena (30) en Moria Shongane (39) Maandag 23 November in die Landdroshof in Modimolle verskyn.

Ndubani het verskyn op aanklagte van moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig. Shongane het verskyn vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en vyf rondes en Mokoena vir sameswering om moord te pleeg. Die sake is uitgestel tot Dinsdag 1 Desember 2020.

Volgens ao. Van Heerden is ’n renosterstroper in Maart vanjaar op ’n plaas in die Dorset-polisiëringsarea deur ’n lid van ’n teenstropingseenheid doodgeskiet en ’n moorddossier is by Dorset Polisie geopen. Op dieselfde nag is nóg twee renosters op dieselfde plaas geskiet en hulle horings verwyder. Volgens ao. Van Heerden kon daar geen vreemde spore in of uit die plaas tot by die toneel gevind word nie. Die spore van die renosterstroper wat geskiet is, was ook uitgewis.

Die ondersoek van die moordsaak is op daardie stadium verwys na die BSE in Limpopo (alhoewel dié eenheid nie gewoonlik moordsake ondersoek nie).

Die BSE het aansoek gedoen vir arrestasie-lasbriewe nadat die ondersoek afgehandel was en die twee lede van die teenstropingseenheid (Ndubani en Mokoena) is beide in Vaalwater gearresteer nadat die lasbriewe op Donderdag 19 November toegestaan is.

Tydens verdere ondersoeke is Ndubani en Shongane se huis in Vaalwater deursoek en daar is beslag gelê op ’n .308-jaggeweer, vyf rondes, ’n knaldemper asook ’n byl en ’n jagmes. Die wapen en ammunisie was onder ʼn bed versteek.

Ndubani het na bewering enige kennis oor die vuurwapen ontken en Shongane is gevolglik gearresteer vir die besit van die ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die wit Volkswagen Polo waarmee Ndubani gery het, is ook deursoek en ʼn .375-jaggeweer, ʼn knaldemper en 16 rondes is in die voertuig gevind waar dit versteek was. By verdere ondersoek is daar ook vasgestel dat die voertuig vermoedelik gesteel is en Polisie het op die voertuig beslag gelê. Beide gewere se nommers was afgevyl.

Ao. Van Heerden sê van die verdagtes het ook met verloop van die ondersoek betrokkenheid erken by ʼn renosterstropery in Maart 2020.

Hy sê voorts dit blyk dat daar samewerking tussen die oorledene en die lede van die teenstropingseenheid was, maar dat hulle planne moontlik skeefgeloop het. Dit het moontlik tot die dood van die renosterstroper in Maart vanjaar gelei. Ondersoeke moet dit egter nog bevestig.

Die Bedreigde Spesies-eenheid is ook tans besig met ondersoeke wat tot verdere arrestasies kan lei.

Ao. Van Heerden bedank die lede van die Bedreigde Spesie-eenheid in Limpopo, HPG in Lephalale en Welgevonden Private Security vir hulle hulp en bystand met die ondersoeke en arrestasies.

Die polisie in Vaalwater was ook teenwoordig op die toneel in Vaalwater.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.