Grote Griet, kyk Nelius se koringkriek!

LEPHALALE — Nelius Grieshaber, ’n graad 12-leerder aan die Hoërskool Ellisras het dié koringkriek vir ’n kunsprojek, met die tema “insekte” aanmekaargesit.

Volgens Nelius het hy droë hout op hulle plot buite Lephalale opgetel en die koringkriek daarmee “gebou”.

Die hout wat hy gebruik het, is van verskeie boomspesies waaronder geelhaak, knoppiesdoring, kruisbessie, rooibos, rooisering, rotsvy, sekelbos, witgat, stinkwitgat en witbessie.

Nelius sê hy het aan die begin van die grendeltydperk met die projek begin en dit het hom ongeveer twee en ’n half maande geneem om dit te voltooi.

“Ek was geïnspireer om ’n koringkriek uit te beeld omdat ons vanjaar ’n plaag van koringkrieke gehad het. Dit is ook verteenwoordigend van die Bybelse plaag van sprinkane en die huidige COVID-19-pandemie,” verduidelik hy.

Nelius het in 2019 ’n eerste plek behaal in die Pretoria Eisteddfod graad 11-beeldhouwerkkategorie en hy het teen druktyd pas gehoor dat hy keuring gekry het om volgende jaar argitektuur te gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria.

Fransa de Beer, onderwyser by EHS, sê: “Nelius is ’n nederige, baie vriendelike jong man. Toe iemand in die klas vir hom vra waarvandaan hy sy talent kry, het hy geantwoord dat dit nie talent is nie, dis net iets wat vir hom maklik is om te doen en hy hou baie daarvan!”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.