Hardekole gee “ghoemas”

LEPHALALE — Hardekool Akademie bied jaarliks hul eie “ghoema”-aand aan om Afrikaanse musikante te vereer deur middel van optredes deur die leerlinge.

Dit was Woensdagaand 15 Mei weer sulke tyd en Wilna Muller, skoolhoof, het moedertaalonderrig in haar verwelkomingstoespraak beklemtoon en gesê dit lê haar na aan die hart.

Wilna het verder gesê dat hierdie tipe aksies harde werk is, maar dis deel van elke kind se ontwikkeling wat vir lank in hul lewens onthou sal word. Sy het elkeen wat betrokke was by die afrigting en reëlings hartlik bedank vir hulle goeie gesindheid wat die sukses van die aand gewaarborg het.

Ds Arno Nieuhoff het die verrigtinge geopen en daarna het Niel Kriel, voorsitter van die Onderwysersraad, ʼn paar woorde aan die ouers gerig.

Kurt Darren, ʼn kunstenaar wie se musiek in Nederland en Vlaams gehoor en ook deur ander kunstenaars gesing word, is aangewys as Die Manlike kunstenaar van die Jaar.

Die Beste kinderalbum vir die Jaar is Buster en Hanna se CD/DVD met Buster die brak wat deur die kinders gesing is, volgens die leerderaankondigers, ʼn móét vir elke nuwe graad een-leerder.

Brandon Peyper het in die kategorie Beste popalbum deur ʼn manlike kunstenaar vir die Jaar met die louere weggestap met sy liedjie Everest.

ʼn Eretoekenning vir Lewensbydrae is toegeken aan Juanita du Plessis, bekende en bekroonde Afrikaanse sangeres en sy is sommer aangewys as Hardies se eie Platinum-prinses.

Die album wat die meeste kere digitaal afgelaai is, is dié van Gerhard Steyn en sy liedjie Afrikaanse Meisie is uit volle bors deur die kinders gesing.

Die Hardies het besluit dat die Beste album deur ʼn duo of ʼn groep dié van Flooze en Dirk van der Westhuizen is met die graad 5’s wat op dié groep se Tennis Tune gedans het.

Fatman het in die Gewildste liedjie van die Jaar-kategorie met sy liedjie Dorp toe die kinders op die verhoog laat rondspring.

Die Beste musiekalbum vir die Jaar is aangewys as dié van die alombekende Snotkop waarop sy liedjie Meisie Ferguson verskyn. Hulle het ook erkenning gegee aan al die liedjieskrywers wat hul emosies, liefde en deursettingsvermoë in die skryf van hul liedjies verwoord.

Die Publiek se gunstelinggroep vir die Jaar is Adam. Die graad 8’s het met oorgawe op hul liedjie Smoorverlief gewys hoe dit gedoen moet word.

DJ Ossewa se Beste Hip Hop album met die liedjie Briljantjie het die Hardies se harte gesteel en soos altyd is die paslike liedjie, Hardekole, aangewys as die Gewildste Radiotreffer, wat uit volle bors deur al die leerlinge gesing is. Die aand is met dié liedjie afgesluit. 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.