Hardies-konsert

Die Hardies het hul konsert met die sing van die skoollied afgesluit. (Daar is nog talle foto’s op Mogol Pos se Facebook-blad)
Die Hardies het hul konsert met die sing van die skoollied afgesluit.
(Daar is nog talle foto’s op Mogol Pos se Facebook-blad)

Ria Wells
LEPHALALE — Hardekool Akademie se konsert op Vrydagaand, 21 Oktober, was ‘n viering van talent in ‘n volgepakte saal onder die bekwame leiding van Philip Pretorius. Die konsert is by Hoërskool Ellisras se skoolsaal aangebied.
Wilna Muller, waarnemende skoolhoof, het almal wat deel aan die konsert gehad het van harte bedank asook spesiaal vir Philip wat die konsert afgerig het. Sy het verder almal teenwoordig hartlik verwelkom en bedank dat hulle moeite gedoen het om die konsert saam met Hardekool Akademie te geniet.
Verskeie temas het deel van die Toeka-tot-Nou-konsert uitgemaak en is afgeskop met die koms van Jan van Riebeeck in 1652. Daarna was dit Boere-oorlog en De la Rey, alhoewel gekant teen die oorlog in 1899, het homself as uitstaande leier bewys. Op ‘n ligter noot het tot “Elvis Presley” sy verskyning op die verhoog gemaak en die kinders het soos ‘n wafferse Olivia Newton John en John Travolta gerock en -roll tot groot vermaak van die gehoor. Die eerste maanlanding het gevolg en die 1995-Rugbywêreldbeker met Leon Schuster se “Hier kom die bokke” het die gehoor laat skaterlag.
‘n Boeretroue is gehou en Eskom het ook ‘n beurt gekry toe die saal vir etlike minute pikdonker geword het as gevolg van ‘beurtkrag’. Die laaste item op die program was die Olimpiese Spele van 2016 in Rio de Janeiro.
Die Hardekoolleerders het die konsert met trots en uit volle bors afgesluit met die sing van die skoollied.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.