Hardies word vereer

LEPHALALE — Hardekool Akademie vir CVO se prestige prysuitdelingsfunksie is Donderdagaand 1 November in hul nuwe skoolsaal gehou.

Wian Lewies saam met Wilna Muller, skoolhoof

Ds Arno Nieuwhof het die verrigtinge geopen en daarna het Niel Kriel, voorsitter van die Opvoedingsraad, die gaste en leerders toegespreek.

Hy het veral die groei van die skool uitgelig en die personeel bedank vir hul toegewyde akademiese en kulturele bydrae. “Ons leef in uitdagende en intimiderende tye en dankie aan die ouers wat saam met Hardekool Akademie droom”. Hy het ook genoem dat die eerste graad agt-groep volgende jaar by Hardekool se hoërskool sal inval, wat gaan verg dat nuwe berge oorwin moet word. Hy het die leerders aangemoedig om die lewe met ʼn glimlag te omarm, op die positiewe te fokus en voorspoed toegewens.

Die uitgaande hoofdogter en -seun, Erisa du Toit en Wian Lewies, het inspirerende afskeidsboodskappe met groot selfvertroue en Hardietrots gelewer.

Nadat dié formaliteite afgehandel is, is sertifikate aan die graad 0-leerders asook presteerders op sport, kultuur en akademiese gebied deur verskeie onderwysers in die graadgroepe oorhandig. Spesiale toekennings in die vorm van trofeë het gegaan aan die volgende leerders:

Junior sportdogter en –seun: Lana Lewies (gr 2) en Deon de Beer (gr 3); senior sportdogter en –seun: Michaela Venter (gr 6) en Helgaard Muller (gr 7); junior en senior redenaars: Wilhelm McAlpine (gr 1), Lana Lewies (gr 2) en Wian Lewies (gr 7); junior en senior kultuur: Cobus Pretorius (gr 3) en Wian Lewies (gr 7); en Staatmakerstrofee: Steven Oosthuizen (gr 8).

Wian Lewies (gr 7) is aangewys as Dux-leerder.

Die Dux-trofee word toegeken aan ʼn leerder wat akademies presteer, ʼn positiewe leierskap openbaar en aan ʼn verskeidenheid sport- en kultuurbedrywighede binne skoolverband deelneem. So ʼn leerder se optrede behoort ʼn bydrae te lewer tot die uitbouing van die beeld van die skool; na binne en na buite. ʼn Punteskaal word gebruik vir akademie, leierskap en sport- en kultuuraktiwiteite om te bepaal wie die Dux-leerder is.

Wian Lewies is ook aangewys as die BCVO Junior Kultuurseun vir 2018. Die BCVO kies elke jaar ‘n landswye Junior en Senior Kultuurseun en –dogter. Dit geskied op ʼn puntetelling vir elke kultuuraktiwiteit waaraan deelgeneem is. Elke skool stuur sy beste seun en dogter se name deur wat in aanmerking moet kom vir hierdie toekenning. Dit is met groot trots dat Hardekool Akademie die BCVO Junior Kultuurseun vir 2018 opgelewer het. ʼn Uitsonderlike prestasie.

Me Wilna Muller, skoolhoof, het die prysuitdeling en bedankings waargeneem. Breëborsleerders en hul ouers het die aand verder saam met die personeel geniet.

Die nuwe leerlingraad vir 2019 is aangewys (sien berig op bladsy 3).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.