Heidenröslein …

LEPHALALE — Hoe beskryf ʼn mens ʼn geleentheid so asemrowend mooi dat woorde te kort skiet? Wend jy jou na Spaans? Fue impresionantemente hermoso. Of Italiaans? Era incredibilmente bello. Dalk Frans? C’était à couper le soufflé. Of wat van Duits? Es war atemberaubend schön. En sommer in ons alledaagse omgang van Afrikaans, Engels en Setswana: Dit was asemrowend mooi, it was breathtakingly beautiful en Le di rele gabotse.

Miems Erasmus en Angelique Pretorius

Die Bosveld Blommeklub, onder leiding van Angelique Pretorius, se Blomme deur die Huis-geleentheid wat Saterdag 14 April by Miems Erasmus se pragtige huis aangebied is, het die asems behoorlik weggeslaan. ʼn Mens kon maar net die talent van die hande wat met die blomme getoor het – van die hek tot dwarsdeur die huis, tot in die tuin om elk hoek en draai – sprakeloos gadeslaan en waardeer.

Hannelie de Beer het Angelique, wat reeds vir 35 jaar ʼn beoordelaar is, se lof in ʼn kort toespraak besing en gesê dat sy van die bosvelddames, van wie sommiges reeds knap blommerangskikkers was, tot groter hoogtes gevoer het. Sy het hulle geleer van hoogte, spasie, proporsie, lyne, kontras, diepte en van die kleurwiel “en ons raak liries oor ʼn tak met ʼn mooi kink in … jy trotseer die Mokolo se krokodille kniediep om ʼn riet met die regte lengte te knip vir jou volgende skepping. Jy vergeet van slange en goggas as jy afpyl op die mooiste stomp in die veld. Jy vergeet jou hoëhakskoene sak in die modder weg terwyl jy peule op die dam se oewer optel”.

Gooi hierdie karakters bymekaar en jy kry die blommeklub. Blommevriendinne. Vriendinne vir altyd.

ʼn Modeparade met skeppings van Kyna Consili het die dag verder opgekikker en lesers kan gerus op Mogol Pos se Facebook-bladsy gaan loer na die pragtige ontwerpersrokke wat vertoon is asook foto’s van die wye verskeidenheid blommerangskikkings.

Gino Veronie se sang en musiek het ʼn lieflike blommeoggend perfek afgerond. ʼn Oggend wat ʼn mens laat dink het aan Schubert se Heidenröslein (Little Rose of the Field).

Die Blommeklub bedank vir Miems wat haar huis en tuin beskikbaar gestel het vir die geleentheid en almal wat die heerlike dag bygewoon het, sê hulle hoop van harte dit was nie die laaste geleentheid van sy soort nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.