Hekke verminder misdaad

VILLA NORA — ʼn Verdagte Nissan NP 200-bakkie is Dinsdagaand 5 Maart tussen 22:10 en 22:30 op die Visgatpad opgemerk en lede van die gemeenskap kon daarin slaag om die voertuig met insittendes Woensdagoggend om 05:00 te stop en Villa Nora Polisie is ontbied.

By nadere ondersoek is vasgestel die bestuurder sowel as passasiers is Mosambiek-se burgers woonagtig in Johannesburg. Hulle kon geen wettige dokumentasie wys nie en hulle verduideliking was dat hulle teëlwerk vir ʼn kontrakteur in die omgewing moes doen.

Villa Nora Polisie het hul gearresteer en na die stasie geneem. Mogol Pos kon teen druktyd nie vasstel of hulle al in die hof verskyn het nie.

Die gemeenskap word versoek om paraat te wees en enige soortgelyke gevalle by die polisie te rapporteer.

Lede van die Tambotie/Overyssel-gemeenskap wat al meer as ʼn jaar probeer om vrylike toegang tot die Visgat- en Tafelkoppad deur middel van hekke te beheer, het almal opnuut versoek om dié poging te ondersteun.

Die toegangshekke is reeds ʼn geruime tyd aangebring, maar dit is nog nie in werking nie.

So ʼn reëling kan slegs goedgekeur word indien al die grondeienaars in die spesifieke area dit ondersteun en daar is steeds enkele lede wat dit nie ondersteun nie.

Soortgelyke hekke wat in ander areas aangebring is werk goed en misdaad in dié areas het aansienlik afgeneem.

Volgens PT van Staden van die BOG-area is daar veral ʼn merkbare verskil in die voorkoms van wilddiefstal vandat die hekke aangebring is. Die hekke in hulle omgewing is egter ʼn tyd gelede opsetlik beskadig nadat ʼn voertuig dit probeer oopstoot het en sedertdien is Van Staden se sonpanele gesteel. Volgens hom het die polisie klaar twee verdagtes geïdentifiseer.

Grondeienaars op die Witkoppad het ook bevestig dat die hekke op die Witkoppad nie toegang verhoed nie, dit word net beheer deurdat almal wat toegang tot die pad wil hê ʼn knoppie moet druk vir die hek om oop te maak en daar is ʼn kamera by die hek aangebring. ʼn Grondeienaar in dié omgewing sê dit was vir hulle ʼn baie groot verrassing om te sien hoeveel onbekende voertuie daar op die pad beweeg of by die hek stop en omdraai. Volgens hulle het misdaad in die omgewing ook afgeneem nadat die hekke opgerig is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.