Helder oordag op plaas oorval — 1 verdagte gearresteer

VAALWATER — Die Polisie in Vaalwater het Saterdag 2 Junie ʼn 33-jarige man gearresteer in verband met ʼn huisroof gedurende ʼn plaasaanval op die plaas Sterkfontein naby Vaalwater.

ʼn 70-jarige man is Vrydagoggend 1 Junie omstreeks 09:00 op die plaas deur vier gewapende verdagtes oorval en na sy huis geneem. Hulle het juweliersware, vier vuurwapens, ʼn Ford Ranger-bakkie en ʼn kontantbedrag gesteel voordat hulle van die toneel af gevlug het.

Die Polisie is in kennis gestel en een verdagte is spoedig aangekeer.

ʼn Kontantbedrag van R8 500, twee speelgoedgewere en ses rondtes ammunisie is gekonfiskeer.

Volgens Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group was daar geen druktyd nog geen verdere verdagtes gearresteer nie.

Die verdagte het Maandag 4 Junie in die Landdroshof in Lephalale verskyn en ten spyte van vele pogings het Mogol Pos geen terugvoer gekry oor die hofverskyning nie.

Die drie ander verdagtes was teen druktyd steeds op vrye voet en enigiemand met moontlike inligting wat kan lei tot die arrestasie van dié drie verdagtes kan adjudant-offisier Johannes Mattheus Keyter skakel by 082 565 8637.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.