Help DBV om katkolonies te beheer

LEPHALALE — Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Lephalale het die afgelope tyd baie navrae vanuit die gemeenskap gehad oor die katpopulasies op myne en plase.
Dit het die bestuur van die DBV genoop om voelers uit te steek om tot ’n oplossing te kom.
Hulle het besef daar moet ‘n manier gevind word om die katkolonies, wat teen ‘n spoed uitbrei, op ‘n redelike manier te beheer.
Wilde huiskatte word dikwels gemeenskapskatte genoem, want hulle is nie wild gebore nie, maar hulle is deur mense uitgegooi, agtergelaat of hulle het net verlore geraak. Omdat daar niemand is wat na die sogenaamde “gemeenskapskatte” omsien nie, vermeerder hulle onbeheerd en die een werpsel babakatte na die ander word gebore. Hierdie katte vorm kolonies met ander katte en ontwikkel dan ’n komplekse familiestruktuur wat hulle areas beskerm, plekke inneem waar hulle kan skuil en hulle spandeer die meeste van hulle tyd om kos te soek.
‘n Vroulike kat, vanaf so jonk as ses maande, kan drie werpsels katjies in een jaar hê. Dit beteken dat daar binne ‘n kort tyd ‘n skrikwekkende hoeveelheid katte gebore word wat aan niemand behoort nie.
Hierdie vroulike katte het baie spanning gedurende die tydperk wat hulle die babakatjies soog en die helfte van die babas sal doodgaan as daar nie menslike ingryping is nie.
Lephalale DBV wil nou probeer om ‘n “TNR” (trap-neuter-return) proses aan die gang te sit. Dit behels dat katte op ‘n menslike manier gevang word en na ‘n kliniek geneem word waar hulle gesteriliseer, ingeënt word vir hondsdolheid, ontwurm word, behandel word vir vlooie en borsluise en ‘n oor word geknip, waarna die puntjie van die oor chirurgies verwyder word. Hulle kan dan geïdentifiseer word as gesteriliseerde katte en word so gou moontlik teruggeneem na waar hulle vandaan kom.
Hierdie vangste word normaalweg deur die nag deur vrywilligers en lede van die DBV hanteer.
Die doel van die projek is om katpopulasies op ‘n behoorlike manier te beheer en om die publiek bewus te maak van die wilde huiskatte se leefwyse. Die DBV wil probeer om 30 of meer katte per week te steriliseer.
‘n Ander uitdaging is die koers van verbastering en introgressie (die oordrag van genetiese inligting van een spesie na ‘n ander as gevolg van verbastering) wat dramaties verhoog het tussen natuurlike wildekatspesies (soos die tierboskat) en wilde huiskatte as gevolg van translokasies van die katte en habitatveranderinge deur die mens.
Al hierdie planne en pogings van die DBV om die katpopulasies te verminder en te beheer is nie moontlik sonder die ondersteuning van die publiek en die instansies waar hierdie katte voorkom nie.
Die DBV se voorstel is dus dat groot instansies sal saamspan met hierdie inisiatief om te help om die kostes te dra.
Die vanghokke is voorskriftlik deur die NSPCA en daar moet toestemming van ‘n plaaslike landdros verkry word en in samewerking met ’n veearts gebeur.
As die DBV ’n vraghouerkliniek kan inrig met die hulp van bydraes van instansies, kan baie diere oor ‘n tydperk gehelp word en dit sal oor die algemeen vir almal verligting bring wat las het van katkolonies (ook by werkplekke).
Volgens inligting is daar ‘n moontlikheid dat Eskom betrokke gaan raak by die projek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.