Help die DBV

DSCF4679

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die Lephalale dierebeskermingsvereniging (DBV) is propvol diere wat of op hulle drumpel afgelaai word, of oproepe wat hulle ontvang oor diere wat hulle êrens moet gaan haal waar hulle onversorg woon of net alleen gelaat is.
Dit is ‘n droewige prentjie. Vrywilligers is Vrydagoggend vroeg besig om vir die diere kos uit te deel. Rys en hoender, want dit is vullend en goedkoper as hondekos. ‘n Weldoener borg die rys en hoender.
Daar is meer honde as wat daar behoort te wees.
“Ons het ‘n groot probleem met mense wat honde sonder kos of water op erwe of plase agterlaat wanneer hulle verhuis” sê een van die vrywilligers.
Sy sê nog ‘n probleem is wanneer mense skielik besef hulle het nou te veel diere – ‘n gevolg omdat diere nie gesteriliseer word nie – en dan weet hulle nie wat om met die diere te doen nie. “Ons het al gevalle gehad waar mense die teef en babahondjies in ‘n plastieksak toebind en hulle in die rivier gaan gooi. Hulle weet nie daar is iets soos ‘n DBV nie en weet nie waar om hulp te kry nie” sê sy.
Verlede week is vyf reuns wat ongeveer sewe weke oud is in ‘n kartonboks voor die DBV se hek afgelaai waar die personeel hulle gekry het. Ander gevalle waar mense in die aand diere van agter af in die hokke druk is ook algemeen. As die personeel dus in die oggend daar aankom is daar nuwe honde in die hokke waarvoor hulle natuurlik moet sorg.
Daar rus ‘n geweldige taak op die personeel van Lephalale DBV, want hulle bedien al die tuisdorpe – selfs Nylstroom (Modimolle) het nie ‘n DBV nie en hulle diere moet na Lephalale toe kom.
Die DBV maak hoofsaaklik staat op donasies van die gemeenskap omdat hulle geen regeringsubsidies kry nie. Mense wat betrokke is by die DBV is mense wat ‘n passie het vir diere. Hulle ontvang geen betaling daarvoor nie, maar gee tyd en liefde aan die DBV-diere. Hulle ontvang ook baie rondloperdiere wat siek is en dringend mediese hulp nodig het, daarom is hulle veearts-rekenings baie hoog. Die DBV-bestuur en personeel doen ‘n beroep op die gemeenskap om skenkings en donasies te doen om te verseker dat hulle steeds die diens kan lewer wat hulle tans doen.
Hieronder is ‘n lys van benodigdhede wat hulle elke dag gebruik en waarvan hulle nooit genoeg van sal hê nie:
PVC-houers met dekels waarin voorraad gestoor kan word; dierehalsbande en “leashes”, PVC diere vervoerbose, tweeliter roomysbakke vir diere in landelike areas.
Medies:
Ontwurmingstablette vir rondloperdiere; Teramycin-spuitbottel vir wonde, bosluisghries vir perde of donkies
Voedsel:
Honde- en katkos (geblik of droog), handdoeke wat nog in ‘n bruikbare toestand is, hondebeskuitjies as lekkerny, honde- en katsjampoe, hond- en kat-dip, dun en dik komberse wat nog in ‘n bruikbare toestand is, speelgoed vir diere, vlekvrye staalbakke, katsand.
Skoonmaakmiddels:
Bleikmiddel, moppe, besems, lateks weggooibare handskoene, seeppoeier vir wasgoed, opwasmiddel en grawe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.