Helpende Hand help SAVF

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die deurgangshuis van die SAVF, waar getraumatiseerde vroue en kinders in veiligheid gehou word, het onlangs ‘n nuwe baadjie gekry danksy Lephalale Helpende Hand.
Mariaan Pretorius, voorsitter van Lephalale Helpende Hand het verskeie borge genader en die een huis is splinternuut geverf en opgeknap. Die matrasse en beddegoed is vervang en verbeteringe is in die badkamer en kombuis gedoen. Mariaan bedank die borge wat haar in staat gestel het om die huis op te knap.
Volgens Alida Laurenson, maatskaplike werker by die SAVF, kan baie van die mense wat in die deurgangshuis gehuisves word vir hulself sorg, maar daar is gevalle wat iemand daar aankom met net die klere aan hulle lyf. “Daarvoor het ons skenkings nodig” sê sy.
Alida sê hulle is baie dankbaar teenoor die kettingwinkel in Lephalale Mall wat op ‘n gereelde basis kos vir die bejaardes skenk.
Alida sê ook baie dankie vir die moeite wat Helpende Hand Lephalale gedoen het met die opknapping van die deurgangshuis en veral vir al die splinternuwe beddegoed.
Die gemeenskap wat graag iets wil bydra aan behoeftiges word versoek om die bydraes (finansieel of andersins) aan die SAVF te maak. “Dit is ‘n betroubare, geregistreerde organisasie wat weet waarheen om skenkings te kanaliseer” sê Alida.
Skenkings in die vorm van onbederfbare kos, vars groente en vrugte en klere sal waardeer word.
Skakel Alida by 081 380 1149 of Mariaan by 084 207 6927 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.