Helpende Hand help

LEPHALALE — ’n Paar weldoeners in Lephalale het aan die begin van die grendeltyd met ’n projek begin om onder andere klere en nie-bederfbare produkte in te samel vir gesinne wat byvoorbeeld in dié tyd nie ’n inkomste verdien het nie.

Volgens Carla Beets, wat deel is van die projek, het hulle na die besef dat daar ’n permanente behoefte is by Solidariteit Helpende Hand aangesluit en ’n plaaslike tak geopen.

“Ons samel enigiets in en ons het ’n klerebank waar al ons klere gesorteer en uitgedeel word. Dan het ons ’n spens waarheen al die kos, huishoudelike middels, toiletware, ens gaan,” verduidelik sy.

Daar is ook ’n Helpende Hand Winkel in Lephalale waarheen alle skenkings gaan, uitsluitend kos of sekere klere. Dit word dan in die winkel verkoop ter ondersteuning van die tak.

“Helpende Hand is ’n niewinsgewende organisasie en alle projekte word met liefde en deernis hanteer. Ons het groepe wat van tyd tot tyd help met die verpakking, verwerking en verspreiding van groente sowel as fondsinsamelings.
 “Aan die begin van die projek het ons 150 mense net in Lephalale ondersteun, maar dit was kort termyn. Ons ondersteun steeds sowat 40 gesinne wat geen inkomste het of hulle werk gedeeltelik verloor het as gevolg van COVID-19.

“Ons poog om maandeliks pakke uit te gee, maar dit is nie altyd so eenvoudig nie, want ons is afhanklik van skenkings. Die maandpakke bestaan uit ongeveer R1 500 se goedere en ons dra ook by ten opsigte van babadoeke en melk.

“Ons was tot nou toe gelukkig en met die hulp van Bo het ons nog elke maand genoeg of te veel gehad, danksy ons wonderlike gemeenskap.

“Ons waardeer elke bietjie hulp vanuit die gemeenskap en ek is so trots daarop om te kan sê ek bly in Ellisras. Dankie aan elkeen wat bydra,” sluit Carla af.

Enigiemand wat betrokke wil raak kan een van die volgende mense skakel:
Carla Beets 083 655 3998
Jaco de Bruyn 083 626 6582
Aldo Venter 079 506 4076
Delyse Venter 082 853 0181
Lynne Maree 082 810 7926 (navrae rakende die Helpende Hand Winkel).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.