Helpende Hand Lephalale gee hand

LEPHALALE — Die gemeenskap in Lephalale gaan die vakbond Solidariteit en Helpende Hand bystaan om ʼn daadwerklike verskil te maak in die lewens van die 300 Solidariteit-lede wat afgelê is in Witbank. Daar sal op 19 Februarie tydens ’n Solidariteit-ledevergadering ʼn noodplan bekend gemaak word waar die vakbond lede gaan ondersteun met CV-opdaterings en Helpende Hand die lede van kospakkies gaan voorsien.
Nagenoeg 2 187 mense is deur die afleggings by onderskeidelik Highveld Steel en Vanchem Vanadium Products geraak, waarvan 300 Solidariteitlede is. Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, moes baie van die afgelegdes reeds sonder hul laaste maand se salaris oor die weg kom en het hulle geen skeidingspakkette ontvang nie.
“As vakbond bly dit ons hoofdoel om die impak van die afleggingsproses op ons lede te versag. Ons sal tydens die afleggingskonsultasies met die werkgewer alle verdere alternatiewe tot afleggings voorstel en ondersoek.
Daarby sal ons aanhou om druk op die regering te plaas om sy rol in die tragedie, asook sy verantwoordelikheid teenoor die werknemers wat deur die proses geraak word, te erken,” het Croucamp gesê.
Volgens dr. Danie Brink, hoof uitvoerende beampte van Helpende Hand, is die nood in die Witbank-area onmiddellik en baie groot: “Hierdie tragedie het ʼn verreikende uitwerking op die gemeenskap in Witbank, en dit sal ʼn groter humanitêre krisis tot gevolg hê as die 2014-stakings by die AMCU-myn in Rustenburg. Die mense het reeds nie meer kos in hul kaste nie en hulle is radeloos,” het Brink gesê.
Beide Brink en Croucamp het ’n dringende beroep op die publiek gedoen om te help om die nood te verlig. “Tydens die AMCU-stakings het ons baie hulp van die boere in die Rustenburg-area ontvang.
Nou word die land deur droogte en swaar ekonomiese tye geteister. Ons het beslis die publiek se hulp nodig om hierdie mense by te staan en die onmiddellike nood te verlig”, het Brink gesê.
Solidariteit en Helpende Hand versoek die inwoners van Lephalale om hulp aan te bied deur “Witbank” na 38969 te SMS en R10 aan die afleggingsnoodfonds te skenk, of www.helpwitbank.co.za te besoek vir Helpende Hand se bankbesonderhede om groter skenkings aan die Witbank- afleggingsnoodfonds te maak.
Die publiek kan skenkings soos nie-bederfbare voedsel by die volgende kantore aflaai:
Solidariteit Helpende Hand Ellisras, Marula Mile Winkelsentrum, Winkel 4C, (Agter Makouvlei Furniture/Avbob), Louis Bothaweg 35, Ellisras.
Skakel Mariaan Pretorius by 014 763 1174 vir enige navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.