Hengelaarsfees

Sittend voor is Herman en Jona Dicks en agter v.l.n.r. is Barendt Breedt, Danie Le Roux, Denise Hildebrandt, Hasie Haasbroek, Andre van Rooyen, Petri de Wet en Louw van der Merwe
Sittend voor is Herman en Jona Dicks en agter v.l.n.r. is Barendt Breedt, Danie Le Roux, Denise Hildebrandt, Hasie Haasbroek, Andre van Rooyen, Petri de Wet en Louw van der Merwe

Ria Wells
LEPHALALE — Mogolklub het Saterdag onder leiding van Denise Hildebrandt ‘n suksesvolle “Hier gaan ons alweer”-byeenkoms aangebied. Hengelaars, gesout en onervare, nuuskieriges en kleintjies, oues van dae wat jonk van gees is het al die kennis opgeaas wat deur Petri de Wet en Andre van Rooyen van die “Hier gaan ons alweer”-span (HGOA) en natuurlik die gewilde Supercast-ouens aangebied en geïllustreer is. Dis nie aldag dat soveel kennis op een dag hier gedeel word nie – en dit deur kundiges wat jou kan vertel hoe om die grotes én die kleintjies uit te haal!
Louw van der Merwe van Supercast is ‘n hengelaar wat al baie ure by die hengelwaters spandeer het en is van mening dat geduld, energie, luister, soek en kyk waar die grotes is, die wenresep vir goeie hengel is. Hy sê dat dit nie help om die beste toerusting te gebruik, maar jy weet nie waar die visse is nie. Hy beskou die Doorndraaidam in die omgewing as van die beste vir varswaterhengel. Hy is egter nie vertroud met Mokolodam nie, maar sê dat hengelaars eers hul huiswerk oor ‘n dam moet doen voordat jy jou lyn daar wil gaan nat maak. Betreffende rivierhengel, moet karphengelaars weet dat karp byvoorbeeld tot 5 km per nag kan skuif. Louw sê dat karp gerus gesoek kan word waar bome oorhang en die water redelik stil is en dat Tiger Nuts nog steeds van die beste aas vir karphengel is.
Die voerskieter, Sandblaster Baitcaster, wat aas tot 350 meter ver kan skiet, is ideaal vir seehengel en lyk baie soos ‘n kanon. Dit het veral baie belangstelling gelok. ‘n Demonstrasie is op die Mogolklub se oefenbof deur Danie Le Roux, vervaardiger, gehou. Doen gerus navraag by Leo Fietse en Hengel rakende dié kragtige apparaat.
Daar is met groot belangstelling geluister na die aanbieding van kunsaas-spesialis, Andre van Rooyen van die HGOA-span oor die gebruik van kunsaas wat werkgedrewe moet wees, asook die bind van stroppe vir swartbaarshengel. Hy glo natuurlik in die Salmo Hornet 6F asook swart en silwer kunsaas en natuurlik “jigs”.
Petri het in die algemeen gesels oor die HGOA TV-program en gesê hulle is juis nou oppad Angola toe en TV-kykers kan hul ekskursies gerus op die program volg. Hy het lojale kykers van die program van harte bedank vir hul ondersteuning.
Hasie Haasbroek van Leo Fietse en Hengel was baie opgewonde oor die insiatief van Mogolklub en het hulle komplimenteer met die aanbieding. Die HGOA-span ondersteun juis geleenthede soos dié waar ‘n dorp oor ‘n kwaliteit hengelwinkel beskik, soos Leo Fietse en Hengel en boonop Daiwa- en Kingfisher-produkte aanhou wat op hulle beurt die borge van die HGOA-span is.
Leo Fietse en Hengel het van hul spogprodukte uitgestal en die dorp se hengelaars hoef regtig nie stad toe te ry vir hengeltoerusting en ander benodighede nie. Hulle het ‘n keur van hengelgerei en alles wat daarmee saamgaan. Hasie en Madelaine McDonald (Rooies) staan reg om hengelaars van goeie raad te bedien. Besoek hulle gerus in Kotiestraat langs Matopi Ford of skakel hulle by 014 763 3181.
Gaan kyk gerus op Mogol Pos se Facebookblad vir nog foto’s, identifiseer jouself en deel dit met vriende.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.