Herwin, herwin herwin!

Die oulike houers wat Mari Murray gebruik vir batterye en gloeilampe wat in onbruik geraak het

LEPHALALE — Herwinning is vir seker die beste manier om ʼn positiewe impak op die dorp en omgewing te bewerkstellig. Dit het nie net op die omgewing nie, maar ook op die mens self ʼn impak.

Dit is duidelik dat die hoeveelheid vullis al hoe meer word, want dit is ʼn deurlopende proses omdat mens daagliks daarmee moet wegdoen.

Maar, dit is ook duidelik dat herwinning laaste op menige huisbewoner se prioriteitslys is.

Die belangrikheid van herwinning kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die stortingsterreine se spasie word al hoe minder en herwinde materiaal kan dié probleem bekamp, aangesien dit baie meer koste-effektief is om produkte van herwinde materiaal te vervaardig as om roumateriaal te gebruik. Suid-Afrika is ver agter teenoor die oorsese lande wat herwinning aanbetref.

Mogol Pos het by Mari Murray, ʼn herwinningskundige, gaan kers opsteek.

Sy en ʼn groepie vriendinne pas herwinning suksesvol toe. Die ideaal is om twee vullishouers in die huis te hê – een vir herwinbare materiaal en die ander vir weggooibare vullis. Herwinbare materiaal is onder andere papier, metaalprodukte, glas- en plastiekbottels, kartonhouers en plastieksakke. Plaas hierdie items eenvoudig in ʼn plastiese sak en indien jy dit nie self by die herwinningsbesighede kan gaan aflaai nie, probeer om daarvoor te reël. Jy sal verbaas wees oor die klein hoeveelheid vullis wat op die ou einde oorbly wat na jou eie komposhoop of stortingsterrein toe kan gaan. Maar dit hang alles af van jou eie ingesteldheid. Begin net – Mari verseker almal dat dit net makliker raak!

Batterye en gloeilampe moet verkieslik in ʼn aparte sakkie/houer tuis gehou word (sien meegaande foto). Die plekke waarheen dit moet gaan is tans ʼn uitdaging, maar ʼn proses is begin om dit ʼn praktiese werklikheid te maak. Lephalale Going Green (LGG), ʼn privaatinisiatief, is besig om daaraan aandag te skenk.

LGG versoek inwoners om batterye en gloeilampe in onbruik asseblief te bêre totdat die plekke van afset bekend gemaak word.  

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.