Herwinning en verfraaiing

LEPHALALE — Die Team Up to Clean Up-veldtog wat gedurende Oktober geloods is deur Danie van der Walt van KAEFER Energy SA werp nog steeds vrugte af.

Fiat-oranje en Ford-blou- vullishouers lyk nou stukke beter sonder dokter Vergroting se obskure plakkate wat lengtes van oor die aarde belowe en ook dokter Aborsie se bedenklike dienste

Daar is diegene wat daadwerklik ʼn verskil in die dorp se beeld probeer maak met voorlopers Anita van Biljon, Trudie Grobler en Susan Goosen met hulle helpers en sommiges van wie die koerant nie eens kennis dra nie. Hierdie mense verdien ʼn medalje om so aan te hou en die dorp te probeer verfraai.

Ellisras Bou- en Hardeware het verf geskenk waarmee ʼn paar van die groot vullishouers geverf is. Erma Bekker het selfs plante geskenk om in van die sogenaamde driehoekige “betonvullishouers” te plant.

Die span voel baie sterk oor die koolstofspoor nalatenskap en sê dat dit elkeen se plig is om toe te sien dat die koolstofspoor so klein as moontlik gehou moet word.

Plaaslik is daar nou vir elke inwoner ʼn gulde geleentheid om deel te word van ʼn gemeenskap wat ernstig is oor herwinning.

Materiaal wat herwin kan word, is alle plastiek, glas, papier, blikkies en karton. Sorg dat alle items skoon gewas is. Gooi alles in ʼn swart/groen/blou of deurskynende vullissak en wanneer die sak vol is kan dit geneem word na die onderstaande perseel: Daar is ʼn stegie tussen Ford Puma-vulstasie en die METRO-gebou wat jou lei na die agterkant van Machauka Lodge waar jy die sakke kan neersit. Wees op die uitkyk vir aanwysings.

Die agent wat bogenoemde herwinningsmateriaal verwerk, sal dit gereeld verwyder en sorg dat elkeen se kosbare bydrae die regte roete volg vir verdere verwerking.

Maar die eerste prys sal natuurlik wees dat mense sodanig opgevoed word om in die eerste plek nie te mors nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.