Hoe neem mens afskeid?

LEPHALALE — Hoe maak mens vrede met ʼn geliefde se afsterwe in dié vreemde tyd waar jy nie kan afskeid neem of jou geliefde in die hospitaal mag besoek nie?

Mogol Pos het gepraat met Magda Reyneke. Haar ma, wyle Daleen Snyders (59), is op 16 September vanjaar oorlede na ʼn lang tyd in en uit hospitale. Sy is agt kere getoets vir COVID-19 en het sewe kere negatief getoets. Die agtste toets was egter positief.

Daleen het in Julie begin siek word en haar familie het gedink dis brongitis, omdat sy elke jaar in Julie brongitis kry. Sy is op 17 Julie in Mediclinic Lephalale opgeneem vir ʼn virale infeksie en op 22 Julie is sy na Mediclinic Harthospitaal in Pretoria oorgeplaas.

“Sy is elke keer wat sy in ʼn hospitaal opgeneem was getoets vir COVID-19 – met opname en ontslag.

“Ons kon my ma van dag een af nie besoek nie – nie plaaslik nie en ook nie in Pretoria nie. “Ons moes haar by die hospitaaldeur los en wegry. As ons iets vir haar moes gee, moes ons dit by Ontvangs afgee. Dit was vreeslik om my moeder af te laai en net te ry.”

Magda sê hulle kon haar wel deur ʼn venster sien, maar die venster moes gesluit wees.
 “Dit was vir ons onaanvaarbaar – hoe neem jy afskeid? By die begrafnisondernemer het hulle ook geweier dat ons haar sien want ‘she has been bagged and sealed twice’. Ons kon nie vir haar ander klere aantrek of haar mooimaak nie,” sê Magda.

Magda sê die dokters het na verskeie toetse aan hulle bevestig dat Daleen erge hartversaking en ʼn vergrote hart gehad het en so spoedig moontlik ʼn pasaangeëer moes kry. Sy sê hulle mediese fonds het geweier om vir die operasie te betaal en vereis dat Daleen eers vir drie maande medikasie gebruik.

Die operasie is wel na ’n maand goedgekeur en sy is op 2 September by die Mediclinic Harthospitaal opgeneem om ’n pasaangeër te kry.

Magda sê sy het voor haar opname negatief getoets vir COVID-19 en is daarna na ’n gewone saal oorgeplaas.

“Soos ons dit verstaan was dit ’n groot saal met baie pasiënte wat vir verskillende kwale opgeneem was. Sy is op 7 September ontslaan sonder dat sy soos gewoonlik met haar ontslag vir COVID-19 getoets was.

“Dit het vir ’n week goed gegaan met haar, maar sy was Vrydag 11 September kortasem en is dadelik opgeneem en getoets vir COVID-19. Sy het positief getoets.

“Sy was in die COVID-saal. Ek was die Dinsdag by die dokter en sy het gesê my ma lyk beter, maar daar is vog op haar longe. My ma het dieselfde aand vir my gesê sy is vreeslik moeg. Sy het my Woensdagoggend 01:30 gebel en gesê sy kry nie asem nie en die dokter het vir haar medikasie gegee. Teen 02:00 het die suster ons gebel en gesê my ma is baie benoud en hulle het haar reggekry om oor te plaas Pretoria toe. Haar bed was bespreek en die helikopter was op pad. Ons het om 04:00 weer ʼn oproep van die hospitaal gehad – dié keer om te sê haar toestand verswak vinnig. Teen 05:00 het die dokter ons gebel om te sê my ma is om 04:30 oorlede.

“Daar is so baie wat ek wil sê, maar dit is nog so seer. Ek wens dit vir niemand toe nie, al wat ons wou hê is om haar nog een keer te sien of vir haar ʼn drukkie te gee. Hoe neem ʼn mens afskeid?” vra ʼn hartseer Magda.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.