Hoe werk jou kragverbruik?

LEPHALALE — Elektrisiteit-verbruikers in Lephalale en omgewing rek toenemend hulle oë omdat hulle sê die elektrisiteit word duurder na die middel van die maand se kant. Waarom betaal hulle meer vir krag as hulle byvoorbeeld minder krag in die tweede deel van die maand gebruik?

Mogol Pos het gaan kers opsteek by Astrid Basson, DA Raadslid by die Lephalale Munisipaliteit wat baie moeite gedoen het om die kwessie uit te pluis.

Sy sê die nasionale gemiddelde kragverbruik per huishouding is 40 kWh per dag.

Elektriese toestelle in jou huis gebruik verskillende hoeveelhede kWh – hieronder val yskaste, TV’s, ligte en geisers. Lugverkoelers en verwarmers gebruik baie meer elektrisiteit.

Volgens Astrid staan die meeste van die huishoudings wat die gemiddelde hoeveelheid kWh gebruik (40 per dag) teen die middel van die maand (die 15de) op meer as 600 kWh wat beteken daarna gaan jy omtrent dubbel betaal vir jou elektrisiteit. As jy in dié tyd boonop jou lugverkoeler gereeld aangeskakel het, kan dit verdubbel.
Die verbruik word in blokke opgedeel:
Blok 1 – (0-50kWh) kos R0,9906
Blok 2 – (51-350 kWh) kos R1, 2568
Blok 3 (351-600 kWh) kos R1,8051
Blok 4 (meer as 600 kWh) kos R2,1691.

Bogenoemde beteken hoe meer krag jy verbruik hoe duurder word die krag.

Astrid beveel aan dat as jy dink jou kragrekening is te hoog, maak seker hoeveel kWh gebruik jou elektriese toestelle. Die ander opsie is om ’n elektrisiën te kry om ’n energie-oudit te doen en as jy steeds verneuk voel kan jy die munisipaliteit vra vir ’n meterlesing. Dit kos wel geld wat by jou rekening gevoeg word. Indien dit aandui dat daar wel fout is met die berekening van jou rekening, betaal jy nie vir die meterlesing nie.

Elektrisiteitsverbruikers kan ook ’n grafiek by SPASA aanvra. Jy kry ’n wagwoord waarmee jy op ’n webtuiste kan inteken om te kyk wat is jou verbruik.

Daar word ook aanbeveel dat kragmeters gereeld gekalibreer word – veral ná beurtkrag wanneer moontlike foute kan insluip.

By navraag het die munisipaliteit gesê kragverbruikers wat steeds onseker is of onbeantwoorde vrae het, is welkom om ’n afspraak te maak met Amogelang by 078 222 9122.  

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.