Hoera vir honde!

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die personeel van Mogol Dierekliniek het Saterdag 9 Julie oudergewoonte ‘n hondevertoning by die Bosveldfees aangebied. Hondeliefhebbers en -eienaars se oë kon behoorlik feesvier met al die dierbare vierpotiges wat soos wafferse skouperde in die rondte gestap het sodat die beoordelaars behoorlik kon sien watter hond is die oulikste, mooiste, slimste ensovoorts.
Die kategorieë waarvolgens die honde beoordeel word, is die beste klein hondjie, die hond wat die beste versorg is, die hond wie se stert die mooiste swaai, die aantreklikste reun, die mooiste teef, die hond en eienaar wat die meeste na mekaar lyk, die hond wat die beste toertjie kan doen, die beste veteraan inskrywing en die besgeklede hond.
Die wenhonde het elk ‘n groot geskenkpak propvol hondekos en ander lekkernye ontvang.
Talana Goddard van Mogol Dierekliniek en vrywilligers Mariska Ehlers, Samantha Brown en Shane Goddard het die geleentheid georganiseer. Die beoordelaars was Johandi, Hanelu en Derick.
Mogol Dierekliniek bedank al die borge van harte vir die ruim skenkings en pryse wat aan die wenners oorhandig kon word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.