Hoërskool Ellisras Nuus

R24 800 se kaartjies verkoop

Steyn van Staden, hoofseun, Werner Malan, Divan Geldenhuys, Zander du Plessis en Elsje Scheepers

LEPHALALE — EHS se rugbykaartjie-trekking is Maandagoggend tydens die saalopening deur Werner Malan waargeneem.
Die eerste prys, ’n slagbees, gaan aan Rikus Malan; die tweede prys, ’n halwe bees en een slagskaap gaan aan Fanus du Plessis; die derde prys, ’n halwe bees, is deur Perfect Ten Lephalale gewen en die vierde prys, ’n blouwildebees, is deur Francois Drotsky gewen.
Die vyfde prys, twee rooibokke, is deur Marius Geldenhuys gewen en die sesde prys, ook ’n rooibok, deur Divan Geldenhuys. Die sewende en agtste prys (’n rooibok elk) is onderskeidelik gewen deur Riekie Coetzee en Scott Scheepers.
CJ Nortje het die meeste kaartjies verkoop (R2 500 se kaartjies) en hy wen R1 000. Die o. 15-rugbyspan is die span wat die meeste kaartjies verkoop het.
ʼn Totaal van R24 800 is ingesamel met die kaartjieverkope en die skool bedank almal wat pryse geskenk het asook al die entoesiaste kopers en verkopers.

MTB-span doen goed

V.l.n.r.: Xander Higgo, Frikkie Brand, Henja Glas, Menno Glas en Adriaan Venter

LEPHALALE — EHS se MTB-span (bergfietsspan) het die naweek van 16 September in Louis Trichardt (Makhado) aan die laaste Spur-ligafietsrykompetisie deelgeneem en hulle het goed gevaar.
Henja Glas wen ’n silwer medalje en sy behaal ʼn algeheel tweede plek in Limpoposkole. Henja gaan eersdaags deelneem aan die nasionale kompetisie by Hoërskool Bekker. Adriaan Venter behaal ʼn negende plek, Frikkie Brand ʼn sestiende plek en Xander Higgo en Menno Glas behaal onderskeidelik ʼn 29ste en 30ste plek.
Het jy moontlik ʼn fiets wat in die motorhuis staan en nie gebruik word nie? Skakel die skoolkantoor by 014 763 2104/5 – die skool kan dit moontlik by jou oorneem.

Nuwe gim op pad

LEPHALALE — Daar is ʼn splinternuwe gimnasium-in-wording by die Hoërskool Ellisras en die leerders sê hulle is baie opgewonde oor dié nuwe aanwins vir die skool.
Die kleedkamers by die sportvelde word onder leiding van Rohan Besseling omskep in ʼn gimfasiliteit vir seuns sodat hulle in die middag daar kan oefen.
Volgens Besseling is daar heelwat entoesiastiese ouers wat betrokke is en help met die bouwerk. Besseling en van die ouers het gimapparate aan die skool geskenk.
“Dit word opreg waardeer en ons weet julle deel in ons poging om leerders in die middae op ʼn gesonde manier besig te hou,” sê Besseling.
Enigiemand wat oefenmasjiene het wat nie gebruik word nie en wat daarvan ontslae wil raak, skakel Rohan Besseling by 082 498 1036.

Krieket-eerstes seëvier

MC Pitout, James McCLaren, Conrad Prinsloo en Gerrie Blom

LEPHALALE — EHS se eerste krieketspan het Saterdag 16 September ʼn wedstryd teen Hoër-skool Nylstroom se eerstes op tuisveld gespeel en die wedstryd met 66 lopies gewen.
EHS het eerste gekolf en 163 lopies aangeteken, waarvan MC Pitout 62 aanteken.
Nylstroom teken 97 lopies aan.
Conrad Prinsloo neem vier paaltjies, Gerrie Blom drie paaltjies en James McClaren twee. Die wedstryd het in ’n baie goeie gees plaasgevind.
Drie EHS-spelers kon nie speel nie, maar plaasvervangers Hannes Pretorius, Zander du Plessis en Peet Pieterse het ingewillig om te probeer. Erik van der Walt het die telling gehou en Steyn van Staden het die span ondersteun.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.