Honde daagliks vergiftig

LEPHALALE — Daar is Dinsdagaand 2 April weer honde in Gruisweg vergiftig. Volgens inligting ontvang, lyk dit asof die gif gedurende die dag oor die muur of heining gegooi word en dan kry die honde dit in die nag wanneer hulle uitgaan om ʼn draai te loop.

Volgens Sonette Coetzer, skakelbeampte van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Lephalale, word daar die laaste tyd letterlik elke aand honde vergiftig en is dit werklik ʼn groot probleem.
Sy versoek inwoners met honde om elke aand voor donker en vroeg in die oggend die erf te deursoek vir enigiets vreemd.
Volgens Archie Kleynsmith van die plaaslike DBV word Gruisweg, Kameeldoringstraat, Impalastraat, Koors-boomstraat en veral huise wat grens aan die gholfbaan geteiken, maar dit is nie beperk tot dié strate nie.
Sonette doen ʼn dringende beroep op inwoners om betrokke te raak by die buurtwag of GPF en om die mense in jou omgewing te leer ken, dan is dit makliker om kriminele uit te ken.
Sy vra ook dat persone met straatkameras foto’s moet neem van rondlopers.
Almal wat betrokke wil raak om patrollies te ry kan vir Sonette ʼn privaat WhatsApp-boodskap stuur by 079 524 0767 met jou naam, selfoonnommer en straatadres sodat die nodige buurtwagte in plek kan kom.
Daar word ook versoek dat die DBV geskakel word wanneer jou hond vergiftig is sodat hulle die dier kan gaan haal en na die staatsveearts neem om vas te stel waarmee hulle vergiftig word. Hulle wil ook probeer vasstel of die kriminele elke keer dieselfde gif gebruik en of dit wissel.
Skakel Archie by die DBV by 079 398 6784 indien jou honde vergiftig word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.