Honde vergiftig

Sonika en Langa dra die dooie boerboel kar toe
Sonika en Langa dra die dooie boerboel kar toe

Ria Wells
LEPHALALE – Woede en verslaentheid. Dit is wat Hannes Visser en Langa Zuma in die vroeë oggendure van Vrydag 4 Maart ondervind het toe hulle uitvind hul honde is vermoedelik vergiftig en Hannes se motorfiets is gesteel.
Hannes Visser van Boomeekhoringstraat 40 in Silver Charms het soos gewoonlik 4:45 opgestaan. Net na 5:00 het sy vrou, Linda, opgemerk dat hul twee Cocker Spaniel-honde darem baie stil is en vir Hannes gevra om te gaan ondersoek instel. Dit was nog effe donker en dit het gelyk of hulle slaap. Die volgende oomblik het Linda gesien dat Hannes se kragtige BMW K1600 GTL motorfiets wat voor die huis gestaan het, skoonveld is! Dit is toe dat hulle besef dat daar fout is en het hulle na die honde gehaas. Hulle was dood. Ook toe eers sien hulle die opening in die heining tussen hulle en die buurman. Hannes sê dat die spoor van die motorfiets deur die opening en deur die buurman se hek tot in die teerpad loop. Daar is niks verder gesteel nie.
Twee honde, ‘n pragtige boelterriër en ‘n Duitse herdershond-kruising van Langa Zuma van nommer 27, skuins oorkant die straat, is ook vergiftig. Langa het vir Mogol Pos gesê dat hy vermoed dat dié twee baie goeie waghonde dalk te veel lawaai gemaak het en met hulle uit die pad, kon die boosdoeners hul vuilwerk voortsit. Hy het wel in die vroeë oggendure “funny” hondegeluide gehoor, maar kon dit nie identifiseer nie. Hy het net na 6:00 op sy twee dooie honde afgekom. Voor Langa se huis in die straat het ‘n bykans leë 10 kg sak Maltabellapap gelê en te oordeel aan die braaksel oral op die gras blyk dit of die gif daarmee gemeng is.
Langa het dadelik na Hannes se huis gestap net om te verneem dat Hannes se honde ook dood is en dat sy motorfiets weg is. Hy sê dat hy laat gaan slaap het en ‘n wit Toyota-bakkie kort-kort in Boomeekhoring op en af gery het wat, toe hy die volgende oggend daaraan dink, baie verdag was.
Sonika Oosthuizen van die plaaslike DBV het monsters van die braaksel geneem vir ontleding en die honde weggeneem staatsveearts toe vir outopsies.
Blykbaar is daar voorheen versoeke gerig om die beboste omgewing tussen Silver Charms en die ou begraafplaas te laat skoonmaak. Dit is die ideale skuilplek vir inbrekers en skelms.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.