Hondelyke op die gras

Hierdie 4 honde van die Venters is verlede Dinsdag vergiftig

Leoni Kruger
LEPHALALE — Vyf honde van die Ventergesin in Snuifpeullaan in Onverwacht is verlede week Maandag en Dinsdag vergiftig. Woensdagoggend is nog twee honde van die Britsgesin in Turflaagtelaan ook dood op die grasperk gevind. Vergiftig met Temik, in die volksmond beter bekend as 2-step omdat die gif se werking só drasties is dat die dier, nadat hy van die gif ingekry het, letterlik twee tree gee voordat hy dood neerslaan.
Volgens Tilanie Venter het hulle verlede Sondagaand gesien daar is iets verkeerd met een van hulle honde, maar hulle kon nie vasstel wat dit is nie. Toe hulle Maandagaand by die huis aankom was die hond dood. Sy het die hond na die staatsveearts geneem vir ‘n outopsie en vier stukke polonie is in sy maag gekry. Die stukke polonie is netjies dubbeld gevou met die Temik in die middel en dan is dit met tandestokkies vasgemaak. Hulle is dadelik polisie toe, maar volgens die polisie kan hulle nie ‘n saak maak as daar nie ‘n verdagte is nie.
Dinsdagoggend teen 11:45 was alles nog reg maar Tilanie sê toe haar ma Dinsdag om 13:00 die kinders by haar huis aflaai, het een van die honde in die hoek van die erf gelê. “Toe ons omstap na agter toe lê die reun daar, die ander hond het in die ander hoek van die erf gelê en hulle teef wat hulle reeds vir 10 jaar gehad het, is dood opgetel naby die hok waarin haar vierweekoue babatjies bly. Dit het kompleet gelyk of sy net tot by hulle wou kom voor sy dood is” sê Tilanie.
Volgens Trish Brits van Turflaagtelaan het haar man nog Woensdagoggend rondom 05:00 met die twee honde gesels voordat hy werk toe is. Romdom 06:40 het hulle die honde, ‘n bull terrier en ‘n jack russell, begin soek en hulle dood in die erf gekry.
Die hele buurt is omgekrap oor dié voorvalle, want niemand is seker wat die modus operandi van die verdagtes is nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.