Hou Wagter binne jou erf

LEPHALALE — Wat staan jou te doen as honde in jou buurt jou kinders jaag wanneer hulle met hul fietse skool toe ry?

Gate in heinings moet onmiddellik herstel word om te voorkom dat honde by die erf uitgaan en ander mense in gevaar stel

Gesien in die lig daarvan dat ʼn hoërskoolleerder etlike maande gelede deur ʼn hond van ʼn buurman in dieselfde straat aangeval is en baie seergekry het, het Mogol Pos die saak ondersoek.

ʼn Leser het Mogol Pos intussen geskakel en gesê hulle bure het groot honde wat deur gate in die heining in die straat uitkom en haar kinders is te bang om met hulle fietse te ry, want die honde jaag hulle.

Volgens die leser het hulle dit persoonlik met die buurman opgeneem, maar na drie weke was daar steeds niks aan die gate in sy heining gedoen nie en die honde baljaar steeds in die straat.

Volgens die munisipale regulasies onder die afdeling “Public Nuisances and Animals” mag ʼn hond nie in ʼn erf aangehou word waar dit nie behoorlik deur ʼn heining binne die erf gehou word nie. Dit stipuleer verder dat die hond geen moontlike gevaar mag wees vir persone buite die perseel waar so ʼn hond gehou word nie.

Mogol Pos het ook by ʼn prokureur kers opgesteek en hy sê die rondloop van die hond is ʼn oortreding van munisipale regulasies en ʼn klag behoort by die polisie aanhangig gemaak te word waar die eienaar aangekla word.

Die plaaslike DBV of munisipaliteit kan die hond skut en die munisipaliteit is verplig om op te tree as die mense gaan kla.

Daar is dus twee moontlikhede – of die munisipaliteit laat die hond skut of daar word ʼn klag by die polisie gelê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.