Huis gaan in vlamme op

Anita van Biljon en die alombekende Phineas wat voertuie in die omgewing was, probeer die brand blus

Ria Wells
LEPHALALE — ‘n Huis wat aan die Departement van Openbare Werke behoort, het Vrydag 3 Februarie in vlamme opgegaan en totaal afgebrand. Die huis is geleë langs die sementpad op pad na Hoërskool Ellisras.
Stephans Mavhango, een van die inwoners, sou die naweek Polokwane toe gaan en hy was op pad uit toe hy rook ruik. Hy kon nie vasstel presies waar dit vandaan kom nie en het al die elektriese skakelaars afgeskakel. Nóg ‘n inwoner se kamerdeur is oopgemaak, maar die rook was op daardie stadium oorweldigend en hulle moes die huis inderhaas verlaat.
Die brand het ongeveer 11:00 ontstaan en volgens een van die inwoners en Astrid Basson wat ook op die toneel was, het die brandweer eers om 12:00 opgedaag om die brand te probeer blus. Blykbaar het die brandweer se water na slegs vier minute se spuit opgeraak wat daarop dui dat daar nie genoeg water in die brandweerwa was nie. Hulle het ‘n bad vol water getap en met emmers probeer om die brand te blus.
Anita van Biljon van die BP Garage wat daar naby geleë is het self ingespring en probeer om die vlamme te blus, maar helaas, dit het nie gehelp nie. Die huis met bykans al die inhoud is daarmee heen.
Astrid sê dat daar ‘n gebrek aan brandkrane in daardie spesifieke straat is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.