Huis toe met die duiwe …

Ria Wells
LEPHALALE — Liesie Victor is op 1 Januarie 1981 gebore. ‘n Nuwejaarsbaba en die eerste vir Annatjie en Johan. Sy was maar ‘n skrale drie maande oud toe sy ernstige breinvliesontsteking en daarmee saam breinskade opgedoen het. Op vierjarige ouderdom het sy wankelrig en voel-voel begin loop op die punte van haar toontjies, maar as gevolg van epilepsie en swak sig was sy bang om te beweeg – wat vermoedelik spierbelemmering tot gevolg gehad het.
Annatjie en Johan Victor het later na Lephalale verhuis en net ‘n paar vriende het geweet van Liesie se gestremdheid en haar bestaan. Sy was nooit ernstig siek nie en was nooit in die hospitaal opgeneem nie. Maar Annatjie, Johan en die getroue Martha het Liesie al die jare met groot liefde tuis versorg.
Op 11 Maart vanjaar het Liesie (Anna Maria Elizabeth Victor) gesterf. Die gedenkdiens was Donderdag vanuit die Hervormde Gemeente Onverwacht waar ds Bernard Prinsloo ‘n besielende troosboodskap vir die familie en vriende voorgehou het. Selmari en Jenni, Liesie se jonger susters, het tydens die diens met groot hartseer, maar ook met groot dankbaarheid getuig van hul ouers se onbaatsugtige liefde vir Liesie.
Na die kerkdiens was daar ‘n kort seremonie en in ‘n hartroerende oomblik, het Avbob se lykswa met Liesie se liggaam saam met 50 posduiwe wat losgelaat is ‘vertrek’. Selmari sê die duiwe simboliseer vir hulle vrede en dit is paslik by Liesie se lewe.
Johan en Annatjie, Selmari en Jenni bedank die volgende persone en instansies: Ds Bernard Prinsloo, Neels Barnardo van Avbob vir sy liefdevolle bystand en reëlings, Richie Pieterse en die duiweklub, dr Thiele en en sy vrou Ammie, EMS-paramedici, ambulansdienste, buurman Hennie, Johan en Vera van Matimba Apteek, die Hervormde Kerk se susters, asook die familie en vriende vir elke vertroostende gebed, elke boodskap en elke oproep. Hulle spreek ook hul besondere dank uit teenoor Martha, die ystervrou wat met liefde en omgee vir baie jare vir Liesie help versorg en liefgehad het soos een van haar eie kinders.
“Ons harte is stukkend want Liesie was die wind onder ons vlerke. God het haar vir 36 jaar aan ons geleen en op Sy tyd weer geneem”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.