Huiskonsert vir kultuursiele

Die mannekoor, Die Grenadiers, v.l.n.r: Johan Dreyer, Karel Botha, Johan du Toit, Johan Wolfaardt, Johan van Vuuren en Willem Hoffman met Riekie Stopforth op klavier
Die mannekoor, Die Grenadiers, v.l.n.r: Johan Dreyer, Karel Botha, Johan du Toit, Johan Wolfaardt, Johan van Vuuren en Willem Hoffman met Riekie Stopforth op klavier

Ria Wells
LEPHALALE – Aan musiektalent in Lephalale ontbreek dit beslis nie. ‘n Genotvolle huiskonsert is Vrydagaand 26 Februarie by die huis van Riekie Stopforth gehou met meer as 100 gaste teenwoordig.
Karel Botha van die mannekoor, Die Grenadiers, het meer vertel oor die ontstaan van die koor ongeveer 18 jaar gelede en daarna, met Riekie as begeleidster, weggeval met die pragtige Bitterbessie Dagbreek van Ingrid Jonker. Talle bekende Afrikaanse liedjies het gevolg en gaste is vermaak met The Royal Ascot asook
kersliedjies van Spaanse en Switserse afkoms.
Die uitvoerings deur Riekie met klavier en Nelia Jordan, kranige dwarsfluitspeler, was van hoogstaande gehalte. Gaste was dit eens dat dié huiskonsert gerus meermale aangebied kan word vir die kultuursiele van die dorp. Elkeen kon sy eie piekniekmandjie en drinkgoed saamneem wat natuurlik die geselligheid van die byeenkoms laat blom het.
Na die vertoning was die gaste traag om te verdaag en het verder gesellig saam gekuier.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.