Huldeblyk Cobus van Biljon 5 Mei 1960 – 14 Junie 2019

Aan ons liefste man, pa en oupa:
Jy is so skielik weg, al het ons geweet dat jy nie meer langer so kon aangaan nie, en tog het dit ons tot stilstand geruk.

Ons gesin was soos ’n ketting en ons hoofskakel is nou weg.

Jy was ’n man met soveel fasette, goed én minder goed soos ons almal. Jy kon lekker moeilik en hardkoppig wees met onwrikbare opinies, maar jy was ’n man en ons pa en ons sou jou nooit wou verander nie.

Jy was ’n formidabele man. ’n Man met soveel liefde en tyd vir jou medemens. Hardwerkend, gedrewe en altyd beskikbaar. Altyd reg met raad, vertroosting en hulp.

Pappa het altyd almal se beste belange op die hart gedra. Almal eerste geplaas, voor jouself.

’n Man sterk in sy geloof en sy liefde vir Jesus. Van kleins af was die belangrikheid van gebed en geloof in ons ingeprent. Jy het altyd gesê “Moet nie moed verloor nie, kyk net op en bid.”

Op pad huis toe vir ’n naweekkuiertjie wou ons almal altyd weet wat is op die spyskaart?

Voor die kospotte was jy koning.

Vier wiele en ’n enjin – van karre kon niemand jou iets leer.

Jou passie vir karre was aansteeklik. Jy was altyd reg met advies oor die moets en moenies van karkoop. Jy was jou lewe deur in die motorbedryf, daar is mense wat nou nog kan getuig van die hoeveelheid voertuie wat hulle by jou gekoop het.

Jy het menigmaal ʼn trou- en matriekafskeidkar bestuur. Almal het jou altyd geken aan jou vinnige “flashy” karre.

Jy was pynlik netjies op jouself en in ons huis. Jy was onsettend streng met baie reëls, maar jou lag kon harte steel.

Pappa, jy, ons hoofskakel is weg, maar ons band is nog sterk, want jy het die fondasie van liefde en omgee vir mekaar gelê.

Jou voorbeeld van menswees sal vir altyd voortleef.

Ons mis jou, maar ons weet daar skyn nou ’n nuwe helder ster in die hemelruim.

Lief vir jou vir altyd en ewig …

— Mamma, kinders en kleinkinders

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.