Huldeblyk: Connie de Kock, 26 Mei 1956 – 27 Januarie 2018

“Soos ons deur ons lewensreis gaan is daar mense met wie ons kontak het, met wie ons selfs goeie verhoudinge het, maar wie nie werklik enige blywende impak op jou lewe maak nie. Hulle is bloot kennisse.

Dan kry jy spesiale mense. Dié mense wat ʼn wesenlike verskil in jou lewe maak deur hulle optrede, opregtheid en werklike belangstelling. Ons het Saterdag 27 Januarie só ʼn mens verloor. Tannie Connie.

Sy het jou altyd met ope arms verwelkom en erg spesiaal laat voel. Sy was maar altyd doenig in haar kwekery, maar min dinge het haar soveel plesier verskaf as om iemand te kan help. Sy was altyd so besorg oor ander. Dit het nooit by haar opgekom dat sy ook belangrik is nie.

Daar was die laaste jaar baie pyn en siekte in haar lewe en sy het haar geliefde eggenoot, oom Daantjie, omtrent twee jaar gelede verloor. Alhoewel sy permanent met pyn gelewe het, was daar altyd ’n glimlag en ’n antwoord dat dit goed gaan. Ek het haar in my hele lewe nooit hoor kla oor enigiets nie.

Dit is hartseer as iemand soos dié van ons weggeneem word. Dit klink so leeg om te sê sy is op ’n beter plek. Die leemte wat sy in ons lewens laat is groot. Ons sal altyd met heimwee en aangename herinneringe aan haar dink.

Connie, ons gaan jou mis.”

— Hannalie de Beer en
Johanna van der Merwe

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.