Huldeblyk – Emmarentia Adriana (Ems) de Bruyn

Emmarentia Adriana (Ems) de Bruyn
12 Oktober 1923 – 21 Mei 2018

Iemand van die Lephalale-omgewing in 1958 het vir oom Jan de Bruyn in sy apteek in Kemptonpark vertel van die groot nood in Ellisras met net een dokter en geen apteek nie. Na ʼn besoek om die kat uit die boom te kyk, trek oom Jan en tannie Ems de Bruyn in Augustus 1959 Ellisras toe saam met hulle twee kinders, Annamie en Heinie, om ʼn apteek te begin.

Die dorp was in die finale proses om geproklammeer te word, die pad ʼn grondpad vanaf Vaalwater tot in Botswana en die paar bestaande besighede was op plase langs dié pad gebou – ʼn poskantoor, kafee, die NTK, Nedbank en Standardbank, twee algemene handelaars, die drie susterskerke, die Waterkloofskool, ʼn kraaminrigting en een dokter wat die hele gebied vanaf Vaalwater tot Swartwater bedien het. Die naaste apteke was in Nylstroom (Modimolle) en Potgietersrus (Mokopane).

Die inwoners was so bly oor die apteek dat hulle nie wou wag tot die dorp geproklammeer is nie en die Fouries bou ʼn apteek langs hulle winkel (die huidige Pika is die samesmelting van hierdie twee geboue). Oom Jan reёl dat die gesin vir die paar interim maande tot proklammasie in die Palm Park Hotel sou bly, wat toe in aanbou was.

Telefone in Ellisras was nog ʼn luukse en ʼn besoek om die laaste dingetjies voor die trek te finaliseer gee ʼn geskarrel af vir alternatiewe verblyf, want die hotel is nog nie eens vensterhoogte nie! Gelukkig het die Ellisse ʼn kamer in hulle plaashuis beskikbaar wat hulle aan die De Bruyngesin kon verhuur, sodat die oopmaak van die apteek nie uitgestel hoef te word nie.

Die De Bruyns, gewoond aan “moderne” geriewe en hulle eie groot huis, trek in ʼn enkelkamer in ʼn huis sonder ʼn plafon of badkamer met net ʼn buiteputtoilet. Die dorp het boonop nog nie elektrisiteit of lopende water nie – ʼn redelike kultuurskok vir veral die stadskindertjies.

Toe dit duidelik word dat daar probleme is met die proklammasie van die dorp en nog maande of self jare vertraag kon word bou die Fouries ʼn vertrek met ʼn badkamer en kombuis agter die apteek aan vir die gesin. Die resepteerafdeling van die apteek word vorentoe geskuif om plek in te ruim vir ʼn slaap- en sitkamer en die gesin verhuis na hulle eie woonplek. Maar toe word dit somer in Ellisras … Oom Jan maak die gedeelte tussen die apteek en kombuis toe met ʼn sinkdak en mure van ogiesdraad en sif om die goggas, muskiete en slange uit te hou, met seile wat kan oprol vir wanneer daar wind en reёn is en die gesin het ʼn somerslaapkamer!

Eers toe die dorp uiteindelik in 1961 geproklammeer word, kon hulle ʼn erf koop en huis bou.

Die enigste dokter het gereeld plaasbesoeke gedoen en omdat die gebied groot is en die grondpaaie sleg, was hy dikwels vir ʼn paar dae uitstedig. Die apteek word die plek waar almal gaan hulp en medisyne kry vir al hulle (en hulle diere) se siektes en kwale en gevolglik brei die apteek se veerartsenyafdeling aansienlik uit.

Die apteek word ook die plek waar jy jou ID- en paspoortfoto’s neem, jou verjaarsdag-, kersgeskenke, juwele, speelgoed, skryfbehoeftes, wapens en ammunisie koop.

Dit het gou duidelik geword dat die grootste voordeel van die blyplek in die werksplek was dat mense wat na-ure hulp en medisyne gesoek het, maklik gehelp kon word. Oom Jan word genoop om ook in sy nuwe huis ʼn groot kas met die nodigste medisyne aan te hou vir die ure wanneer die apteek toe was, en veral om die noodritte snags na die apteek te beperk. Tannie Ems het heeltemal kreatief geraak oor hoe om Sondagmiddagetes so te beplan dat die kos nie bederf wanneer etes onderbreek word deur mense wat kom medisyne soek het juis wanneer die gesin aansit vir ete nie.

Tannie Ems was al die jare oom Jan se regterhand in die apteek, tot hy die apteek later weens swak gesondheid moes verkoop. Daarna was sy sy hulp en ondersteuning tot hy op 20 November 2001 oorlede is na ʼn lang en besonder gelukkige huwelikslewe van 54 jaar.

Sy was tot laat in haar tagtiger jare nog relatief aktief. Sy het haar eie motor bestuur, smiddae met haar kierie om die blok gaan stap, haar kinders en kleinkinders bederf met sjokoladekoek en beskuit, en altyd ʼn lekkertjie gehad om met die klein- en agterkleinkinders te deel, wat nie dikwels genoeg na haar sin kom kuier het nie. Toe sy nog behoorlik kon sien, het sy haar tyd verwyl met lees, brei, en haar sepies. Sy was ook ʼn vurige Springbok- en Blou Bulondersteuner.

Sy het haar man egter baie gemis en kon in die later jare met haar swakker gesondheid wat haar aktiwiteite en beweeglikheid baie ingeperk het, nie meer wag om by hom in hul hemelse tuiste aan te sluit nie. Ons glo dat haar gees uiteindelik tot ruste gekom het by haar hemelse Vader en haar geliefde eggenoot en dat dit nie vir haar swaar was om hierdie tranedal met al die pyn en lyding te verlaat nie.

Haar plekkie gaan baie leeg wees, maar sy het ʼn baie lang en vol lewe gehad en ons gun haar die vrede en rus daar waar sy nou is.

Die familie wil almal bedank wat die begrafnis bygewoon het en die simpatiebetuiginge wat van heinde en verre gestuur is. Hulle bedank veral diegene wat tyd ingeruim het om tannie Ems deur die laaste paar jaar te besoek – ten spyte daarvan dat dit soms moeilik was om ’n logiese en sinvolle gesprek te voer. Almal se belangstelling word opreg waardeer.

— Annemie van Vuuren, Hein de Bruyn
en die res van die familie

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.