Huldeblyk Ester (Koekie) Nel

4 Mei 1935 – 2 Maart 2019

Koekie (Ester) Nel, ’n nooi van Dalen, is in 1935 in Potgietersrus gebore. Sy trou op 16-jarige ouderdom met Stoffel Nel en twee kinders, Willie en Hendrik, word uit die huwelik gebore. In die vroeë vyftigerjare word die Bosveld hul tuiste.

Koekie sal onthou word as ’n gelowige, saggeaarde, verdraagsame, mededeelsame en nederige mens en geliefd onder haar familie en vriende. Sy het voluit geleef vir haar man, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

Gasvryheid en hartlikheid was van haar vele deugde en besoekers is altyd getrakteer op tuisgemaakte lekkernye wat gewissel het van varsgebakte brood met room, vleistertjies tot soetgoed en vele meer. Niemand het honger daar weggegaan nie.

Sy was lief vir tuinmaak en het haar huishouding self hanteer. ’n Deugsame vrou.

Na ’n huwelik van 63 jaar het Stoffel haar ontval en die gemis aan haar geliefde lewensmaat was vir haar baie swaar.

Sy het die afgelope twee jaar ’n tuiste by Die Oog Aftreeoord gevind en nuwe vriendskapsbande gesmee en ook ou vriende van die Bosveld daar raakgeloop.

Koekie se gesondheid het sedert November 2018 verswak en sy is in die versorgingseenheid by Die Oog opgeneem waar sy die laaste drie maande van haar lewe deurgebring het tot en met haar afsterwe.

Sy is Donderdag 7 Maart langs haar geliefde Stoffel op die plaas Walkerskloof deur dr Daan van Wyk van die Nederduitsch Hervormde Kerk Ebenhaeser begrawe.

Willie en Hennie Nel, asook al die familie, betreur haar heengaan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.