Huldeblyk – Johan Pistorius

13 Januarie 1945 – 18 September 2018

Johan Pistorius

Hy was net agt dae oud op die dag van sy ma se begrafnis toe sy tannie, Annie Pistorius, gesê het sy sal hom grootmaak. Annie was 52 toe sy Johan as haar eie kind aangeneem het. Johan Stander is op 13 Januarie 1945 in Ellisras gebore. Hy het sy van na Pistorius verander nadat hy 20 jaar oud geword het, omdat hy graag aan sy grootmaakouers erkenning wou gee vir die feit dat hulle hom onvoorwaardelik aangeneem het.

Wyle Johan Pistorius het geen bekendstelling in Lephalale nodig nie. Hy en Lettie, sy vrou, is in 1967 getroud en hulle verhuis in 1972 na Ellisras nadat hulle die plaas Alem, teen die Mogolrivier, in ’n ruilkooptransaksie bekom het. Hy begin Alem Mogol Melkery in 1973. Johan het verskeie plase en besighede in Lephalale en omgewing gekoop en verkoop tot en met sy afsterwe in sy huis in Pretoria op 18 September vanjaar. Lettie en die kinders, Theodor, Rina en Ansie, is so dankbaar vir die 18 jaar wat hulle saam met Johan gehad het nadat hy die eerste keer gediagnoseer is met kanker.

Die Pistoriusgroep met Johan aan die stuur is welbekend in Lephalale.

Johan sal onthou word vir sy eerlikheid, integriteit, hardwerkendheid en billikheid. Hy had ’n afkeur in omkopery, bedrog, diefstal, leuens en valsheid.

Hy was ’n man van sy woord en geliefd in die gemeenskap van Lephalale. Sy afsterwe laat ’n leemte in sy gesin, in die besigheidswêreld en ook in gemeenskappe.

Lettie en die kinders bedank almal wat hulle in hierdie tyd bygestaan en ondersteun het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.