Huldeblyk vir my vriend Werner Emslie

Joe het hierdie foto van ‘n skildery van Werner wat deur Mariëtte geskilder is saam met sy huldeblyk gestuur

Werner en Mariëtte en hul familie is baie spesiale vriende vir ons en die aanval op hulle op hul plaas en sy dood was vir my ʼn baie groot skok.
Werner was ʼn baie spesiale mens en om hom te vervang sal ʼn hele klomp unieke mense ingevoer moet word
Hy was in baie opsigte uniek en dit was ʼn groot voorreg om ʼn hele klomp belewenisse saam met hom te kon beleef.
Hy was ‘n gulhartige mens en jy kon hom altyd ‘n myl ver hoor en hy het geen probleem daarmee gehad om sy gevoelens te wys nie. Hy was ‘n terggees en almal moes bontstaan om dit vry te spring – veral die jongklomp.
Sy inleef in ‘n rugbywedstryd as die Springbokke en die Blou Bulle speel was voorwaar opwindend om die minste te sê en as die skeidsregter foute maak, dan het hy hom mooi vertel wat hy van hom dink.
Ek het saam met hom op die Hoërskool Ellisras se Beheerliggaam gedien en die wysheid en passie waarmee hy moeilike sake as voorsitter hanteer het, het baie stabiliteit en momentum verskaf. Hy was nie bang om enige iemand wat die skool wou benadeel aan te vat nie. Hy het ‘n baie groot liefde vir die skool en die kinders uitgeleef en dit was sigbaar waar hy beweeg en gewerk het.
Sy familie was vir hom baie belangrik en hy het hulle met groot liefde, passie en deernis ondersteun. Hy het sy ma en pa wonderlik ondersteun en hierdie liefde was altyd duidelik sigbaar. Sy kinders se vriende was altyd welkom en hulle moes bontstaan om al sy kwinkslae en poetsbakkery vry te spring.
Hy was baie lief vir sy vrou en kinders en was baie trots op haar en hulle baie mooi prestasies. Voorwaar ‘n begaafde familie. Sy heengaan laat ʼn baie groot leemte.
Hy het baie vriende gehad en elkeen het ‘n baie spesiale vriendskap met hom gehad. Hy het elkeen baie mooi ondersteun en om saam met hulle te kuier was altyd hoog op die agenda. Kuiers by die Emslies was vol vreugde en gesprekke sommer lekker lewendig, ja kuiers daar was altyd lekker!
Sy liefde vir die plaas en die diere, veral sy Simbras, was lekker om te beleef. Boerdery het volledig in sy are gevloei.
Die jagkamp het hy gebou om lekker te kon kuier en baie lekker onthoutye het hier plaasgevind.
Hy was ‘n uitstekende dokter en het hom ook as beroepsgesondheidsgeneesheer bekwaam. Met hierdie kennis het hy ‘n onskatbare bydrae gelewer by die Grootegelukmyn.
Ons het ‘n paar jaar gelede gereeld muurbal gespeel. Dit was eerder oorlog soos ons gekompeteer het – veral as ons in mekaar se pad kom en die punt word “geclaim”.
So sit hy teen die een muur en ek teen die ander en ons stry kliphard wie was verkeerd. Partykeer so hard dat die ander mense buite gaan staan om nie die geveg te sien nie.
Dan gaan ons aan met ooreenkoms en speel klaar en drink ʼn bier na die tyd, steeds vriende en die res van die spelers kom drink ‘n bier saam. Dit het darem nie altyd gebeur nie, net soms.
Dit was altyd lekker om na sy standpunte te luister wanneer oor ʼn wye groep onderwerpe gepraat en gedebateer is.
Hierdie aanval en moord ontneem ons van een van ons mees begaafde en lojale inwoners. Dit is ‘n groot jammerte en net God weet die rede vir alles. Hierin moet ons berus en aangaan binne die geloof en pad wat die Here vir ons kies. God sal weer die son laat skyn.
Werner was vir my ʼn spesiale vriend en ek gaan hom baie mis.
Intussen gaan ons Mariëtte, Grant, Barbara en die familie ondersteun om weer te kan aangaan.
Groete ou maat
— Joe Meyer

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.