Húlle kan dit fix!

Dewald en Erika na afloop van die reeks. Voor hulle is die maande se beplanning wat hulle op kartonne gedoen het

LEPHALALE — Lephalale se eie TV-sterre, Dewald en Erika van Zyl, is onlangs aangewys as die wenners van ʼn Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks op VIA kanaal 147, naamlik 123 Fixit!

Mogol Pos het by dié kreatiewe paartjie ʼn draai gemaak om meer oor die hele ervaring uit te vind.

Dewald en Erika het ʼn paar jaar gelede ʼn derde plek behaal in ʼn Fixit with Flair-kompetisie, aangebied deur Tuis-tydskrif. Toe die 123 Fixit-kompetisie ter sprake kom, is al die mense wat plekke behaal het in die Fixit with Flair-kompetisie in Julie 2017 geskakel om te hoor of hulle belangstel om aan die kompetisie deel te neem.

Hulle het laat weet dat hulle belangstel en eintlik al daarvan vergeet toe Dewald die oproep in Februarie 2018 kry dat hulle gekies is om deel te neem as een van drie pare.

Die twee kreatiewe Van Zyls het hulle sake bekyk, mooi beplan en is verlede jaar op 25 Oktober Kaap toe om die huis te bekyk wat gerestoureer moes word, hulle mededeelnemers te ontmoet en om die trekking te doen van die areas waarvoor hulle verantwoordelik sou wees.

Erika sê hulle het net 15 minute gehad om met Annelie, die huiseienaar, te praat en kon foto’s neem van die areas wat hulle moes regruk, naamlik ʼn tuinkamer, badkamer, slaapkamer, stoep, ingang en die grootste uitdaging, die woonkamer (wat ʼn voorportaal insluit).

Dit was die enigste keer dat hulle by die huis was of foto’s kon neem en moes al hulle beplanning doen deur dit wat hulle daardie dag waargeneem het.

Hulle moes ook vooraf al die materiaal wat hulle sou benodig vanaf die borge bestel. Hulle het die vertrekke op karton uitgelê en elke bank, tafel, kas en wat nog in die vertrek was op skaal geteken en alles tot in die fynste detail uitgewerk. Hulle mag geen nuwe meubels aangekoop het nie. Hulle moes alles skep uit dit wat op Annelie se werf was. Dit het die uitdaging soveel groter gemaak. Maande en aande se werk.

Die min tyd wat hulle beskikbaar gehad het om hulle vertrekke te voltooi was ʼn reuse uitdaging. Hulle het vier dae per uitdaging gehad en dan was daar nog kitsuitdagings tussen-in.

Hulle eerste dag op stel was 19 November 2018 en die laaste dag was 18 Desember. (Vier-en-twintig dae, 6 uitdagings!) Elke span het die HELE tyd ʼn kameraman en klankman gehad wat saam met hulle beweeg het.

Die uitdaging wat vir hulle die ergste was, was die buite-area. “Dit was 38˚C in die Kaap en ons het verskriklik warm gekry in die oorpakke wat ons moes dra. Ons het bitter hard gewerk en iets uit niks geskep nie en was baie teleurgesteld toe ons die uitdaging nie wen nie,” sê hulle.

ʼn Hele nuwe wêreld van kameraspanne en redigering het vir hulle oopgegaan. “Dit is iets waarvan ons niks weet nie en die mense agter die skerms werk ongelooflike lang en harde ure. Ek het soveel respek vir hulle gekry,” vertel Erika.

Die hoogtepunt was natuurlik die wen, maar die hele ervaring, alhoewel uitputtend, was ‘n fees. Iets wat hulle vir seker weer sal aanpak.

“Ons het geleer dat ons meer geduld en uithouvermoë het as wat ons gedink het, dat ons baie goed kan saamwerk, selfs onder geweldige druk en dat ons ten spyte van die ongelooflike druk, steeds kreatief kon wees. Mens kom definitief baie sterkter uit aan die ander kant na so ʼn uitdaging,” sê dié kreatiewe span.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.