Hulle poets Beeld

Spelers en afrigters sluit hul suksesvolle rugbyseisoen Woensdag met ‘n “Victory Parade” af …
Spelers en afrigters sluit hul suksesvolle rugbyseisoen Woensdag met ‘n “Victory Parade” af …

Ria Wells
LEPHALALE — Tamboti Toyota, hoofborg van Hoërskool Ellisras se rugby, in samewerking met afrigters en ouers, bedank elke leerder vir hul toewyding en veral die sukses wat die o. 14- en o. 16-rygbyspan vanjaar behaal het met die wen van die Beeldtrofeë.
Hulle het verlede Woensdag die twee spanne met vyf Land Cruisers op ‘n “Victory Parade” deur die dorp geneem en aangedoen by Laerskool Ellisras asook Laerskool Bosveld Primary.
Pieter de Swardt, onderwyser by Laerskool Ellisras, het die spanne verwelkom en geluk gewens met hul oorwinning, terwyl die kaptein van die o. 14-span, JP van Staden, die laerskool vir hul ondersteuning bedank het: “Julle is welkom by Hoërskool Ellisras – dis nie so sleg daar nie”’ het hy tong-in-die-kies afgesluit.
By Laerskool Bosveld Primary het Karen Meyers die seuns verwelkom en namens die skool geluk gewens. Daar het die kaptein van die o. 16-span, MC Pitout, die Bossies vir hulle ondersteuning bedank en gesê dat hulle talente by EHS nodig is sodat daar voortgebou kan word op die huidige prestasies. Die leerders het die twee spanne gegroet met ‘n vrolike dansie op die maat van “Trumpets”.
Tamboti Toyota is met reg trots op hierdie spanne en Andre Lötter, handelaarshoof, sê: “Dankie weer eens dat julle Tamboti Toyota se naam reg deur die seisoen met trots gedra het en verseker het dat die hele dorp trots-Ellisras is!”
Hierdie spanne het Tamboti Toyota en die skool se BEELD behoorlik blink gepoets!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.