Húlle praat hul pad oop

Fransa de Beer
LEPHALALE — Altesaam 26 redenaars van Hoërskool Ellisras het Donderdagaand 20 April aan die Redenaars Interhuis in agt kategorieë van die ATKV deelgeneem.
Die Afrikaans huistaal seniors se onderwerp vir hul voorbereide toespraak was “Mag” en die juniors uit dieselfde kategorie kon kies uit “Sirkus”, “Klets” en “Koors”.
Die Afrikaans addisionele taal se seniors kon vir hul voorbereide toespraak kies tussen “Kamera” en “Ego” en die juniors in dié kategorie se onderwerp was “Sirkus”.
Die tema van die onvoorbereide toesprake vir seniors was: “Skole moet / moenie snoepies hê nie” en die juniors moes redeneer oor: “die gebruik van dagga moet / moenie gewettig word nie”.
Volgens die beoordelaars was die leerders se toesprake besonder kreatief en baie goed geskryf.
Des Jordaan (kultuurorganiseerder) het gesê die doel van só ‘n aand is om te leer om krities te lees en te luister, inligting te versamel, te analiseer en sintetiseer, om logiese kreatiewe denke te ontwikkel, om eie menings en argumente te formuleer en om met selfvertroue die ander mense tot jou standpunt oor te haal. Leerders se leierseienskappe, sportmangees en kompetisievaardighede word ook ontwikkel deur deel te neem aan redenaarskompetisies.
Leerders wat deurgedring het na die volgende ATKV-rondte wat 5 Mei by Hoërskool Hans Strijdom te Naboomspruit/Mookgophong gehou word is:
Juniors huistaal voorbereid: Anika van Rooyen (eerste plek), Bianca Smith (tweede) en Janice van die Walt (derde); juniors huistaal onvoorbereid: JP van Staden (eerste), Janco von Ronge (tweede) en Dian Besseling (derde); juniors addisionele taal voorbereid: Precious Ntozini; juniors addisionele taal onvoorbereid is Murangi Sithari; seniors huistaal voorbereid: Erik van der Walt (eerste) en Clarise Kritzinger (tweede); seniors huistaal onvoorbereid: Nathalie Perrier (eerste) en Janke Punt (tweede); seniors addisionele taal voorbereid: Boitumelo Tsolo (eerste) en Rulani Sithari (tweede) en seniors onvoorbereid: Lerato Ditsela (eerste) en Dikeledi Monyeki (tweede).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.