Hulp en bystand

Johan en Sunette van Rooyen bedank almal wat Vrydagaand behulpsaam was nadat hulle dogter, Andrea, ongeveer 13 km vanaf Lephalale beheer oor haar voertuig verloor en dit gerol het.

Kapep (Pieter) du Plessis, ʼn adjudant-offisier van die Bulgerivier-polisiestasie en sy eggenote Wilna, wat ook in die polisiediens is, was toevallig die eerste mense, wat Andrea van weet, op die ongelukstoneel. Danksy hulle vinnige optrede was nooddienste en die polisie gou op die toneel en het Thys Eloff beheer oorgeneem en alles verder gekoördineer met die insleepdienste, hospitaal, ensovoorts.

Daar word vermoed dat daar voordat Kapep-hulle op die toneel was, ander mense daar was, want Andrea se selfoon is weg. Haar beursie was oopgemaak en bankkaarte en kontant is weg. Nié waardevolle items soos lidmaatskap-kaarte is nie verwyder nie.

Andrea is uit die voertuig geslinger, iets wat die dokter sê beslis haar lewe gered het, want anders was haar nek waarskynlik gebreek. Johan sê alle lof kom die Here toe wat vir Andrea beskerm het, en haar steeds beskerm.

Verder is pastoor Jan Bezuidenhout van die PPK Mosselbaai ʼn groot steunpilaar en hy is gereeld in kontak met Johan en bied ook deurlopende ondersteuning aan Andrea.
Andrea is in die Lephalale Mediclinic opgeneem en is Maandag oorgeplaas na die Kloof Hospitaal in Pretoria.
Johan bedank veral die twee Lephalale SAPD-lede, konstabels Moloto en Mathebula vir hulle behulpsaamheid op die toneel en die gemeenskap vir hul besorgdheid en belangstelling, veral die baie vriende wat Andrea simbolies ondersteun het.
Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.