Hulp vir Lulu se hart

Lulu Schutte

LEPHALALE — Die 7-jarige Llewellynn (Lulu) Schutte is ‘n graad 1-leerder by Laerskool Bosveld Primary en sy is op 24 Junie vanjaar gediagnoseer met Atrio Ventricular Septal defek (ASVD), ‘n harttoestand wat beteken sy het drie in plaas van vier hartkamers. Daar is egter talle mediese prosedures wat noodgedwonge uitgevoer moet word – onder andere ‘n hartklepvervanging en die pypies van en na die longe moet herstel word.
Al haar ingewande onder die mantelvlies is aan die teenoorgestelde kant as normaalweg gevorm, haar lewer sit byvoorbeeld aan die linkerkant waar dit eintlik aan die regterkant moet wees.
Die gesin het die finale diagnose Vrydag 22 Julie aangehoor. Llewellyn het Heterotaksie-sindroom; abdominale situs inversus met levokardie; onderbroke IVC; enkel atrium en ‘n AV kanaal-defek met ‘n spleet in die linkssydige AV-klep.
‘n Ope-hartoperasie is geskeduleer vir 6 September 2016 by die Unitas Hospitaal in Pretoria deur dr. J de Villiers (kardiotraks chirurg) en dr. E. Colyn (pediatriese kardioloog).
Die gesin het wel ‘n mediese fonds (Polmed) wat die operasie ondersteun, maar hulle betaal slegs fondstariewe en die hospitaal is nie ‘n ingekontrakteerde diensverskaffer by Polmed nie. Daar is stewige bybetalings wat gemaak moet word en die ekstra kostes wat die dokters en spesialiste vra moet deur die ouers betaal word.
Hulle het reeds ‘n aparte rekening vir Lulu geopen om te help met die bestuur van enige fondse wat ingesamel word.
Die hoogtepunt is egter dat die kunstenaars TOUCH OF CLASS ingestem het om ‘n optrede te hou ten bate van Lulu se hartklop. Dié besondere geleentheid word 27 Augustus by Laerskool Bosveld Primary gehou. Die toegangskoste is R80 vir hoërskoolleerders en ouer en R30 vir laerskoolleerders en jonger.
Rooibokke, Stetsons (cowboyhoede), magic baits-gemsbokke, ‘n skildery van Ansu Leahy, ‘n naweek by Tog-te-Lekker en talle ander dinge sal ook by die geleentheid opgeveil word.
“Hotdogs”, koeldrank en biltong word tydens die pouse verkoop.
Kaartjies is beskikbaar by Ellisras Apteek, Die Pot Lifestyle Café, Gereformeerde Kerk Magol, Matimba Apteek, Perfect 10, Bakgat Biltong en Laerskool Bosveld Primary (Lizette van Rooyen).
Skakel Annemie Breedt – 073 822 5890; Lizette Perrier – 082 857 3559 of Clarice Schutte – 079 358 8837 vir navrae en besprekings.
Die bankbesonderhede is:
Llewellynn Quick, FNB Youth rekening; rekeningnommer 62623350311, Lephalale takkode 250655.
Willie en Clarice Schutte bedank elkeen wat bereid is om by te dra daartoe dat Lulu se gesonde hartklop vir nog baie jare gehoor sal word.
Skakel Willie en Clarice by 079 358 8837 of stuur ‘n e-pos aan Lulusehartklop@gmail.com.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.