Ikoon sterf op 92

Ria Wells
LEPHALALE — Rudolph Jacobus van Rooyen, of beter bekend as Boeta of Ouboeta vir die familie, het op 9 Junie vanjaar op die ouderdom van 92, die tydige met die ewige verwissel, slegs 15 dae voor sy 93ste verjaardag.
Vir die familie en diegene wat hom geken het was hy ‘n ikoon wat almal met liefde vertroetel het. Geliefde bosvelder in murg en been wat sy lewe met rustigheid en wysheid en in diepe geloof geleef het. Storieverteller en humoris. Gasvry en vol sêgoed. Getrou aan homself.
Boeta se begrafnisdiens was Saterdag 17 Junie vanuit die NG Kerk Albertyn waar dr Hennie Hoepfner die diens waargeneem het.
Die familie se afskeidswoorde in die begrafnisbrief spreek boekdele van hul liefde van ‘n geliefde wat hulle vooruitgegaan het: “Ouboeta, ons groet jou … Vir byna 93 jaar het jy met stille wysheid die dae geleef en rustig en kalm gewag op hierdie spesiale dag wanneer ure, dae, maande en jare eindelik sou oorgaan in aanskoue van ons grote Skepper. Ons prys die Heer vir iemand soos jy, Ouboeta, wat deur jou lewe ons lewens so geraak het, dat jou menswees ons altyd sal bybly! “
En soos Hestertjie Human tereg sê: “Wegry van Hoornbosch sal nooit weer dieselfde wees … sonder ‘n wit sakdoekie wat vir my waai …”
Die familie bedank almal wat hulle in hartseerdae gedra het, maar bedank ook die gemeenskap vir hul liefde vir Boeta wat betekenis en sin aan sy lewe gegee het. Verder bedank hulle Suster Lizelle, dr Hoepfner, Mediclinic, ER 24 en Neels Barnardo van AVBOB, asook dr Thiele en sy vrou Ammie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.