Inbraak by Laerskool VW

Dié kluis is met ‘n hoekslyper oopgebreek
Dié kluis is met ‘n hoekslyper oopgebreek

VAALWATER — Laerskool Vaalwater is Vrydagaand 20 Mei beroof. Skoolhoof Leonard Vorster het Saterdagoggend net na 07:00 goed by die skool gaan haal toe hy op die chaos in die administrasiegebou afkom.
“Toe ek by die kantore instap het ek dadelik ʼn snaakse brandreuk gekry en ek was agterdogtig. Kort daarna het ek gesien in watter chaos ons kantore agtergelaat is en ek het onmiddellik die Vaalwater polisiestasie gekontak,” sê Vorster.
Die verdagtes het vermoedelik deur die badkamervenster binnegekom nadat hulle die skoolheining by die rugbyveld geknip het. “Die kriminele het verskriklik baie skade aangerig in ons administratiewe gedeelte, alle drade en elektroniese goedere is beskadig. Ons telefoon, internet, skoolklok en alarmstelsel is alles verwoes en die drade stukkend geknip. Hulle het ook die kluis met ʼn hoekslyper oopgesny, die matte in die proses gebrand en die inhoud alles op die grond uitgegooi. Elke moontlike tassie is oopgebreek om te soek vir kontant,” het Vorster moedeloos vertel.
“Ek dink dit is laag en gemeen om by skole wat reeds onder finansiële druk gebuk gaan in te breek en soveel skade te veroorsaak,” het Christi Fourie, die skool se sekretaresse gesê.
Daar is na beraming sowat R100 000 se skade aangerig.
Vaalwater se polisie het ʼn saak geopen, maar daar is blykbaar geen verdagtes nie en niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. Geen vingerafdrukke kon op die toneel gevind word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.