Inbraak-tendens verander — polisie laat

Leoni Kruger
LEPHALALE — Daar word toenemend geweld gebruik tydens inbrake en die tendens dat daar net in die nanag (vanaf 02:00) ingebreek word, is ook nie meer waar nie” sê Thys Eloff, voorsitter van Lephalale gemeenskappolisiëringsforum (GPF).
Mense wat opstaan om werk toe te gaan word byvoorbeeld oorval en inbrake neem toe.
Corna van der Westhuizen van Waaisandstraat in Onverwacht kan hiervan getuig. Sy het aan Mogol Pos vertel dat hulle Sondagoggend omstreeks 05:00 wakker geword het van ‘n rumoer op die erf. By nadere ondersoek het die verdagtes laat spaander. “Ons het die noodnommer by die dienskamer geskakel omdat ons uit vorige ondervinding weet die polisie antwoord nie hulle telefoon nie. Dit was 05:50. Die bemanning van die dienskamer (Delta 1) het ons teruggeskakel en gesê die polisie is besig met diensruiling en hulle sal oor so 15 minute by ons wees. Hulle het eers 09:20 Sondagoggend opgedaag” sê Corna.
Sy sê daar was baie duidelike vingerafdrukke en spore wat opgevolg kon word, maar die forensiese span het eers om 18:00 opgedaag.
Daar is dieselfde nag ingebreek in Waterbokstraat en Wildebeesstraat.
Volgens Corna het hulle om 03:00 Sondagoggend by ‘n huis in Waterbokstraat ingebreek en die verdagtes was reeds in die gang toe die gesin se hond begin blaf en hulle weggehardloop het. Die polisie het blykbaar die verkeerde straatnommer neergeskryf en het eers die middag om 18:30 daar opgedaag. Die inwoners is sagte teikens. Twee vroue.
In nóg ‘n voorval dieselfde nag in Wildebeesstraat het die boewe egter reggekom en ‘n TV, skootrekenaar en die gesin se klein hondjies gesteel. Corna meen as die polisie net vinniger gereageer het kon hulle die inbrekers vastrek want hulle was die hele nag in die omgewing bedrywig.
Adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder was teen druktyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.