Inbrake neem toe

LEPHALALE — Inbrake in en om Lephalale het die laaste twee weke toegeneem.

Volgens Thys Eloff, voorsitter van Lephalale GPF, word huise geteiken waar daar niemand by die huis is nie en kriminele slaan selfs so vroeg as 21:00 toe. “Dit beteken hulle doen hulle huiswerk deeglik,” sê Eloff.

Eloff sê voorts spore wat tot dusver gevind is, dui op meer as een groep huisbrekers en dat twee tot drie persone per groep mag saamwerk asook ʼn voertuig wat die karweiwerk doen.

Twee wit Isuzu-bakkies, albei enkelkajuit, is onderskeidelik Vrydagnag en Sondagnag 4 en 5 Augustus van die eienaars se persele af gesteel.

Die een bakkie, ʼn 2,5 liter 2006-model, registrasienommer CWF 815L, met ʼn duik agter op die bakwerk langs die sleepstang, is Saterdagnag in Tembisa, Noord van Kemptonpark gevind.

Die ander bakkie met registrasienommer FMM 545N was teen druktyd steeds soek.

Eloff sê gemeenskapslede moet hulleself en hulle wapens beveilig. “Kluise word oopgebreek en die wapens kan weer in ʼn ander misdaad gebruik word.

“Skakel Delta 1 by 081 701 1089 enige tyd in die dag of nag en moet asseblief nie wag tot die volgende oggend as daar in die nag iets gebeur het nie. Die spore moet onmiddellik opgevolg word,” sê hy.

ʼn Span van die Heritage Protection Group (HPG) assisteer die GPF en SAPD met die ondersoek en opvolg van spore.

Lephalale Polisie het teen druktyd nie Mogol Pos se navrae beantwoord nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.