Inbrekers dra huis leeg — palissade-toegang dalk nuwe tendens?

ONVERWACHT — Inbrekers het ʼn huis in Zebra Village in Onverwacht verlede Donderdagnag, 1 Oktober, leeggedra. Net ʼn vrieskas het oorgebly.

Volgens Francois Roets, eienaar van Monster Sekuriteit, het hulle ʼn boodskap ontvang dat daar deur die nag by die huis ingebreek is.

Die sekuriteitsbeamptes het na ondersoek gerapporteer dat die verdagtes toegang tot die erf gekry het deur die palissade af te saag, maar die geëlektrifiseerde heining aan die bokant was onaangeraak.

“Dit is waarom ons nie by die beheerkamer ʼn sein ontvang het dat daar aan die heining gepeuter word nie,” verduidelik Roets.

Volgens Roets moes die verdagtes ʼn afstandbeheerkontrole gehad het om ʼn hele huis se goedere uit te dra. Die moontlikheid dat hulle saam met iemand gewerk het wat ʼn kontrole het, is dus nie uitgesluit nie.

Inwoners is ook Donderdag deur die GPF op hulle nood-WhatsApp-groep gewaarsku dat ʼn nuwe neiging rakende inbrake opgemerk is.

Die modus operandi is volgens die GPF as volg:

Vermeende inbrekers stap verby ʼn huis en plaas byvoorbeeld ʼn palmblaar bo-oor die sekuriteitskamera. Hulle benader dié eiendom dan na ure vanuit dié “blinde kol” en verwyder die palissade. Hulle verkry dan toegang tot die dak deur op ʼn symuur te klim. Die verdagtes het reeds ʼn gat in die dak gesny met ʼn blikskêr, maar daar word vermoed dat hulle gesteur was en nie hulle taak kon voltooi nie.

Volgens die GPF Noodgroep was daar ʼn soortgelyke insident in die Onverwacht besigheidsarea. In dié geval was die palissade afgesny, maar weer in plek geplaas en met ʼn dun draaitjie vasgemaak. Die eienaar was salig onbewus van enige vuilspel maar ʼn ligte bui reën en ʼn dak wat lek het hom onraad laat vermoed.

Na deeglike ondersoek is vars spore by die afgesnyde palissade opgemerk. Beeldmateriaal op ʼn sekuriteitskamera het die verdagtes se taktiek en die tye van poging tot inbraak bevestig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.