Inent noodsaaklik

Hondesiekte (Canine Distemper) is ‘n HOOGS AANSTEEKLIKE en potensieël dodelike siekte wat deur ‘n virus veroorsaak word en die siekte wat wêreldwyd die meeste honde doodmaak. 50% van honde en 80% van alle jong hondjies wat die virus kry, sterf.
Enige mak- en wilde hondespesie, jakkalse, sommige primate, groot katspesies, insluitende jagluiperds en leeus kan hondesiekte kry.
Die siekte versprei deur naby kontak en die oordra van speeksel of ander vloeistowwe van besmette diere. Roofdiere wat van ‘n besmette karkas vreet is ook vatbaar en dit kan dan na ander diere versprei.
Simptome sluit onder andere koors, ooginflammasie, neus- en oorontslag, moeilike asemhaling, hoes, braking, diarree, verlies aan eetlus en die verharding van neus- en voetkussinkies in.
Gevorderde simptome sluit in onwillekeurige spierspasmas, aanvalle, oortollige kwyl, stuiptrekkings, blindheid, verlamming en dood.
Dit is voorkombaar. Die jaarlikse inentings, beskikbaar by alle veeartse, dek hondesiekte asook ander aansteeklike siektes. Deur jou hond se inentings op datum te hou kan jy voorkom dat die siekte versprei word.
Daar is geen behandeling vir hondesiekte nie. Antibiotika kan toegedien word om sekondêre infeksies te behandel, maar die immuniteit van die dier kan die virus oorkom.
Volgens Kelly Abraham van Waterberg Nature Conservancy, is daar wel gevalle van hondesiekte in die Waterberg en die siekte is tans besig om na die wilde populasies roofdiere te versprei. Sy sê dit stel die oorlewing van wilde roofdiere in die gedrang.
“Maak seker jy is ‘n verantwoordelike troeteldiereienaar en sorg dat jou troeteldier-inentings op datum is” sê Kelly.
As jy vermoed dat jou troeteldier moontlik hondesiekte het, skakel dadelik jou naaste veearts.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.