Informante ‘n noodsaak

Leoni Kruger
LEPHALALE — Daar word baie probleme ondervind met wildstropers wat honde gebruik om te jag in die Beska-omgewing het Douw Pelser, voorsitter van die landelike veiligheidsforum (LVF) verlede week tydens die maandelikse LVF-vergadering gesê.
Die noodsaaklikheid van informante vir elke area is ook bespreek. “Elke area moet ‘n informant of twee hê en die informante moet mekaar nie ken of van mekaar weet nie” is gesê. Dit is ‘n baie suksesvolle manier om van beplande misdaadoperasies te wete te kom.
Nog ‘n noodsaaklikheid is dat die onderskeie areas moet weet watter helikopters of vastevlerkvliegtuie is beskikbaar en waar.
Marius Fuls, hoof van Ferroland Limpopo het gesê dat ‘n vorige wilddief die beste tipe informant is. “Baie van hulle jag vir die vleis en is nie gewoontemisdadigers nie. Mens kan met hulle onderhandel vir vleis in ruil vir inligting.
“Wilddiewe is baie gebiedsgebonde en territoriaal en anders as wat baie mense besef is hulle ‘n professionele groep wat presies weet wat hulle doen. Dit is baie belangrik om die regte inligting te kry oor wat in jou area gebeur – ons moet voorkomend optree en nie reaksionêr nie” sê Fuls.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.